7 maande gelede
‘Cops skud, skop, klap en lem my’
gekerf: Teswill Blom sê dis ’n cop se lemwerk onder die verband.Foto: KEITH MEYER  ~ 

LEEU-GAMKA. – Die bewering is dat ’n cop lem getrek het, en dít nogal in die cop shop.

Dis nadat drie ouens glo eers uitgeskud is vir ganja.

Duanne van der Berg vertel: “Ek en ’n vriend, Teswill Blom, het gestap toe die polisie my geskud het.

“Toe ’n selfoon op die grond val, het die polisie gedink dis dagga.

“Die polisieman het my met sy knie op my bors gedruk en met pepersproei gespuit. Ek het losgeruk en weggehardloop.”

Die bewering is dat Blom toe volgende was.

Blom vertel: “Ek is voor my ma se woning gearresteer.

“Ek is geboei en ook ge-pepper-spray.

Skop

“Toe smyt hulle my met geweld in die vên en jaag toe met my die veld in.

“Toe kom een van die cops en skop my daar waar ek agter in die vên is en klap my ook.

“Toe ons by die polisie­stasie kom, sê ’n ander polisie­man dis nou sý beurt om my te slaan.”

Dis volgens Blom die einste cop wat lem getrek het.

Blom beweer: “Hy het sy mes in die polisiestasie uitgehaal in die teenwoordigheid van nóg twee persone.

“Hy het my toe teen die kop gesteek. Ek het ’n saak gemaak en moet nou ’n J88 by die dokter invul.”

Blom sê hy het met die Leeu-Gamka-aksiekomitee en stasiebevelvoerder oor die voorval vergader, maar dat hy nie tevrede is nie.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisie­woordvoerder, sê: “Die polisie ontken dat die betrokke polisiebeampte die persoon met ’n mes gesteek het.

“Die persoon het wel ’n klag gemaak en mag die saak verder voer met die gebiedskommissaris in Beaufort-Wes.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters