10 maande gelede
Baba-rape-verdagte kry nie bail
ondersteun: Die gemeenskap staan bankvas agter die verdagte. Foto’s: Bohemia Hoffmeester  ~ 
ondersteun: Die gemeenskap staan bankvas agter die verdagte. Foto’s: Bohemia Hoffmeester
verlang: Die verdagte se ma, Marina Mckidd, en broer, Ju­lian, wil hê hy moet vrygelaat word.

DIE klag teen ’n man vir die beweerde verkragting van sy girlfriend se baba (16 maande) is voorlopig teruggetrek.

Maar die probleem waarmee hy sit, is dat hy nie uit die tronk kan kom nie oor hy nie parool kan kry nie.

Dié man van Darling se ouers wil hom baie graag tuis hê vir Krismis, maar hy sal eers moet wag vir ’n datum om vir ’n ander klag voor die paroolraad te verskyn.

Volgens die man se ma, Marina Mckidd, het hy op 13 Desember in die Darling-landdroshof verskyn, maar die saak kon nie voortgaan nie oor die DNS-uitslae en die dokter se mediese verslag uitstaande was.

Die saak is toe tot 24 Januarie uitgestel.

Volgens Mckidd is haar seun toe teruggestuur na die Malmesbury-gevangenis, maar sy is later dieselfde dag deur die ondersoekbeampte in kennis gestel dat sy die volgende dag by die Malmesbury-landdroshof moet wees.

Die ma vertel: “Hy het aan my gesê ek moet sorg dat ek by die hof is.

“Toe ek vir hom sê: ‘Maar my seun verskyn eers volgende jaar weer,’ het hy gesê die uitstaande verslae het teruggekom.

“Toe my seun die volgende dag verskyn, het hulle aan hom gesê hy moet maar afstaan, want die klag teen hom is teruggetrek.

“Hy is toe weer ­terug gevangenis toe.”

Volgens Mckidd het die ondersoekbeampte aan haar gesê dat haar seun eers in Januarie ’n datum sal kan kry om voor die paroolraad te verskyn.

Hieroor sê die ma: “Hoekom moet my kind steeds in aanhouding bly as hy nie die daad gedoen het nie?

“Hoe moet die gemeenskap nou na my kind kyk?

“Ek gaan ’n eis instel vir my kind se naam.”

Volgens die ma het haar kind aan haar belowe dat hy nié sy meisie se kind verkrag het nie.

“Hy was baie lief vir daai kind. Hy sou nooit so iets doen nie.”

Volgens ’n familievriend het hulle dit baie snaaks gevind dat die verdagte vir verkragting opgesluit is, want die baba is aanvanklik hospitaal toe oor sy siek was.

“Ek het nog die kind drooggemaak en daar was geen teken van bloed of niks nie.

“Ek en haar boyfriend het nog gehelp om die kind te dokter. Toe ons weer hoor, toe sê hulle die polisie gaan hom arresteer.”

Die baba is ná twee maande steeds in die hospitaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters