5 dae gelede
Tjoppers presteer
Dodelike halfdosyn: Met sjihan Mario Boer in die middel, is die MB-karateklub se swartgordels (van links) Reece Adams, Liam Damon, Charl-Jo Pillay, Jason Wesso, Quin-Ly Marthinus en Marnika Japies.Foto’s: leon bonthuys  ~ 

DIE MB Ryushin-Kan-karateklub in Eerste­rivier is betreklik jonk, maar ses van sy jong lede in al junior swartgordels.

Hulle is Reece Adams, Liam Damon, Charl-Jo Pillay, Jason Wesso, Quin-Ly Marthinus en Marnika Japies.

Vyf van hulle het ook reeds Protea-kleure verwerf.

Eersterivier is bekend vir sy bendebedrywighede maar dié karatekas laat ­hulle nie intimideer nie – hulle droom groot.

Hul sjihan (instrukteur), Mario Boer, wat ’n swart gordel sesde dan dra, is ook die Proteas se sjihan.

Boer sê hy is besonder trots op sy karatekas.

Hy meen: “Ek glo mense wat sport beoefen, soek die Here. ’n Mens kan nie op jou eie operate nie.”

Boer glo aan die gesegde “a child in sport is a child out of court”.

Hy sê dié groepie is sedert 2008 saam en hy het hulle belowe hy sal sy “sol­date” saamneem as hy ooit as die Pro­teas se sjihan aangestel word.

Aangemoedig

Die klompie het onlangs aan die Suid-Afrikaanse ­karatekampioenskapstoer­nooi in Durban deelgeneem en almal het medaljes gewen.

Marnika (17) van die ­Hoërskool Malibu, vertel sy het met karate begin toe sy sewe jaar oud was.

Marnika sê: “Een van my laerskoolvriende het my aangemoedig. Dit hou ’n mens uit die moeilikheid en bied jou ’n toekoms.”

Quin-Ly (15), van die ­Hoërskool Tuscany Glen, was ook ­sewe toe sy begin het.

Boer het lede in 2008 by Tuscany Glen kom werf. Quin-Ly sê sy het opgehou, maar toe hy in 2009 weer werwing daar gedoen het, het sy haar lesse hervat.

Quin-Ly sê: “Karate is baie lekker en soos enige sport is dit goed en dit hou ’n mens beskeie.”

Reece (17), wat ook ’n leerder aan Malibu is, sê hy was oorgewig en is gespot en geboelie.

Hy vertel: “My ma het gedink dit sal goed wees as ek selfverdediging leer. Die hoof en Mario het in my geglo.”

Hy sê die vyf beginsels van karate – ywer, geduld, matig­heid, respek en eerlikheid – bou ’n mens se karakter.

  • Bel sjihan Mario Boer gerus by 082 835 4528 vir meer inligting.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters