5 dae gelede
Hospitaal herdenk
merkwaardig: Prof. Chris Barnard en sy span het die geskiedenisboeke herskryf.FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE Groote Schuur-hospitaal het gister die 50ste herdenking van die wêreld se eerste hartoorplanting, wat op 3 Desember 1967 gedoen is, gevier.

Toe prof. Chris Barnard en sy span die oorplanting gedoen het op Louis Washkansky (54), het dit ná die tyd die media se aandag wêreldwyd getrek.

Dis sekerlik die grootste mediese gebeurtenis in die wêreld se gesondheidsgeskiedenis.

Dit het ook die Groote Schuur-hospitaal en die Universiteit van Kaapstad op die wêreldverhoog gesit.

Feesvieringe is sedert verlede week aan die gang om dié groot gebeurtenis te herdenk.

Gister by die Groote Schuur-hospitaal is nog ’n herdenking gehou om mense wat organe skenk, te bedank.

Op die betrokke dag in 1967 is Denise Darvall (25), ’n vrou wat breindood verklaar is ná ’n ongeluk in Soutrivier, se hart gebruik om in Washkansky oor te plant.

Visuele uitstallings is gehou en simposiums is aangebied sodat mense meer kon leer van dié merkwaardige dag 50 jaar gelede. Klem word ook gelê op hartdienste wat vandag en in die toekoms aangebied sal word.

Besoekers kan gerus ook die Heart of Cape Town-museum besoek om meer te leer oor wat gebeur het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters