5 dae gelede
Dis Bernie se 30ste
BERNIE Temmers gaan Saterdag ’n besonderse mylpaal in sy hardloop-loopbaan behaal.

Dít wanneer die 54-jarige langasem van die Langa-atletiekklub sy 30ste agtereenvolgende Voet van Afrika-marathon gaan aandurf.

Dié uitmergelende wedloop oor 42.2 km wat in Bredasdorp plaasvind, word as een van die moeilikste marathons in Suid-Afrika beskou.

Temmers vertel: “Ek het as laaitie sokker in Matroosfontein vir die Nelsons-sokkerklub gespeel.

“By die Hoërskool Spes Bona in Athlone het ek rugby in die haker-posisie gespeel. Ná skool het ek aan geen klubsport deelgeneem nie.”

Temmers sê op 23-jarige ouderdom het sy broer, Keith, hom aan padwedlope voorgestel.

“In 1986 het ek vir Keith by die Winelands-marathon gaan ondersteun en besluit om aan die 5 km-pretdraf deel te neem. En dít is waar die gogga my gebyt het.”

Temmers het daarna besluit om hom by Helderberg Harriers in die Strand aan te sluit. In 1987 het hy aan sy eerste marathon, die Peninsula-marathon, deelgeneem.

“My eerste standaard-marathon het ek in 3 uur en 31 sekondes afgelê.

“Ek het die laaste tien km in 36 minute gehol en agtergekom dat ek ’n bietjie hardloop-talent het.”

Sy tweede marathon was die Rooibos-marathon in September 1987 wat hy in 2:45  afgeblits het.

“Dit was my eerste marathon onder drie uur.

“My derde marathon was dieselfde jaar in Oktober 1987.

“Dit was toe ek besluit het om my eerste Voet van Afrika-marathon aan te durf.

“Ek was maar 24 jaar oud en het saam met die eerste vrou geëindig in 3:15. Sy het daardie dag ’n nuwe rekord opgestel.

“My beste tyd by die Voet is 2:51.

“Saterdag gaan my 30ste agtereenvolgende Voet wees.”
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters