2 jaar gelede
WINTERSKOOL SE ENGELE GEE HOOP

DIS Maandag 29 Junie en dis winter.

Die meeste onnies en leerders slaap laat, want die vakansie het begin. Ek is ook met verlof om tyd met my onnie-vrou deur te bring. Nogtans staan ons vroeg op. Ons is op pad na Rachel’s Angels (RA) se winterskool by die historiese Noorder-Paarl Sekondêr.

As trustee van die program gaan ek die onnies en leerders verwelkom. Hulle het al Sondag by die koshuis aangekom.

Die imposante ou gebou is indrukwekkend. Die wit verf laat sy boudatum, 1936, uitstaan. Die parkeerarea en skoolsaal is onberispelik. Dié hoof is ’n raakvatter.

Spurgeon Wilson, RA-projekbestuurder, en sy adjunkte, Anthea Jacobs en Marius van Brande, wag my vriendelik in. Alle reëlings is getref. Op ’n tafel lê hul studiegidse gereed vir die deelnemers.

Spurgeon vergesel my na die klaskamers waar die mentees intensiewe onderrig in wiskunde, wiskundegeletterdheid, Afrikaans, Engels en ekonomie ontvang. Dis die gateway-vakke wat toelating tot tersiêre onderwys waarborg.

Ek bedank die onnies wat hul vakansie opoffer en bemoedig die leerders.

Rachel’s Angels is ’n bemagtigingsprojek en ’n vennootskap tussen die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Universiteit Stellenbosch (US) en Media24. Gr. 11’s en gr. 12’s uit benadeelde gemeenskappe doen aansoek om daaraan deel te neem.

Die doelwit is om leerders se akademiese vaardighede te verbeter en hulle lewensvaardighede te bied met ’n twee jaar lange mentor/mentee-program met ’n ondersteuningsraamwerk onder US-toesig.

Senior US-studente tree as mentors op. Dit help leerders gewoond raak aan ’n universiteitsomgewing. Hulle sit in lesings en besoek die biblioteek. Hulle vind ook in die administrasiegebou uit oor kursusse en beurse. Verder word hul vaardighede geslyp met werksessies oor selfbeeld en studietegnieke.

Die US-sentrum vir studentevoorligting en -ontwikkeling word ook betrek. Vir baie leerders gaan ’n nuwe wêreld oop. So word hulle toegerus om ’n bydrae te maak tot die SA ekonomie en samelewing.

Die trust wil ook die skole se kapasiteit uitbou om uitnemendheid te bevorder. Daarom word daar aan hoofde bestuursopleiding gebied. Die deelnemende mentors en skole baat ook finansieel by die projek.

Leerders moet sekere akademiese teikens met die mentor se hulp bereik. Indien suksesvol, kry die skool en mentors aandele. Só kon baie studente hul studieskuld afbetaal en skole kan hulpbronne bekom.

Die opoffering is die moeite werd. Die program werp vrugte af. Dié mentorprogram spog met ’n slaagsyfer van 100% in 2013 se matriekeksamen. Dit was 97% in 2011 en 95% in 2009.

Vrydag 3 Julie daag ek weer by die skool op om die winterskool af te sluit. Ek sien hoop in die 150 ywerige gesiggies.

Op pad huis toe besef ek opnuut hoe belangrik goeie onderwysers is. Ek hoop ons lei studente op wat ná jare in die onderwys steeds so toegewyd sal wees soos die RA-onnies. Ek sê dikwels vir hulle – en dit geld alle waardige onnies wat nou ’n welkome blaaskans geniet: Julle is die sout van die aarde. Sonder julle het ons kinders geen toekoms nie.

Dr. MICHAEL LE CORDEUR, verbonde aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch en ondervoorsitter van Rachel’s Angels, praat oor die winterskole wat deur dié projek by hoërskole aangebied word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters