2 jaar gelede
SYLVESTER DIE LEEU MOET DALK WAAI
 ~ 

Daar is nog nie besluit oor die toekoms van Sylvester die leeu nadat hy aan die Karoo Nasionale Park terug besorg is ná sy dramatiese vangs in die Nuweveldberge nie.

Die drie jaar oue leeu is nou onder waarneming in ’n boma in dié park.

Nico van der Walt, bestuurder van die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes, sê: “Spesialiste sal besluit wat die beste opsie vir die leeu is. Dit is moontlik dat hy verskuif kan word.”

Daar word geglo ’n ander leeumannetjie of -mannetjies het Sylvester uit sy trop verstoot. Hy het toe ’n gat in die heining gevind en uit die park ontsnap.

Van der Walt sê dit gaan goed met Sylvester. Al het hy nie beserings nie, is hy egter gestres.

Die leeu se 24 dae op vrye voet het Maandagmiddag geëindig toe hy hoog op die Nuweveldberge op die plaas Palmietfontein opgemerk is.

“Teen dié tyd was hy al moeg en het hy vier dae laas geëet. Saterdag het die honde hom die berge in gejaag,” sê hy.

Die spoorsnyers het die leeu gewaar en ’n helikopter is ingeroep omdat hy weer die pad gevat het.

Uit die lug kon Sylvester op ’n hoë krans gesien word.

Van der Walt sê: “Die helikopter het binne 30 m van die leeu af gekom en die veearts kon hom met ’n verdowingspyltjie skiet.”

Daar is gevrees die verdowingsmiddel kon veroorsaak dat hy van die krans af rol, maar daar was ’n struik wat dit verhoed het.

Toe kom die moeilike deel. Omdat die reddingsvoertuie nie naby genoeg kon kom nie, is daar besluit om die groot kat in ’n hangende draagbaar met die tjopper te vervoer.

Die helikopter moes so naby aan Sylvester op die berg kom dat die rotorlemme net 2 m van die krans af gedraai het.

Sylvester is oorgelaai op die voertuie en na die Karoo Nasionale Park gehaas.

Ná die drie weke lange soektog sê Van der Walt hy het geen kwade gevoelens teenoor die leeu oor die 300 km wat hulle moes aflê om hom op te spoor nie.

“In dié tyd het ek respek vir hom gekry oor alles waardeur hy moes gaan,” sê hy. – timeslive.co.za

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters