7 dae gelede
Verdagte voor ná slanery
steke en kneusplekke: Luyanda Saki het verskeie beserings opgedoen toe hy laas week op ’n plaas aangerand is. Foto: theo jeptha  ~ 
slegte hoop: Die man wat aangerand is deur ’n kontrakteur woon op dié plaas.
steke en kneusplekke: Luyanda Saki het verskeie beserings opgedoen toe hy laas week op ’n plaas aangerand is. Foto: theo jeptha
skokkend: Thandeka Saki (64) is hoogs ontsteld oor haar seun se aanranding.
verlosser: Paru Witbooi (51) van Paterson het eintlik Luyanda Saki se lewe gered.
seergemaak: Luyanda Saki van die Good Hope-sitrusplaas in Addo erken hy het ’n masjien se battery gesteel.

DIE kontrakwerker wat na bewering vir Luyanda ­Saki (26) van Addo lelik aangerand het met ’n ysterpaal, verskyn na verwagting ­vandag in die Paterson-landdroshof.

Dié hofverskyning vind plaas presies ’n week nadat Saki aangerand is oor hy ’n masjien se battery gesteel het op die sitrusplaas Good Hope. Saki het op dié plaas grootgeword en daar was nooit vantevore enige gewelddadige insidente nie.

Die plaaseienaar, Chris ­Potgieter, het aan Son gesê dat die beskuldigde ’n kontrakwerker is. “ ’n Battery is gesteel en Saki is ­polisiestasie toe geneem, volgens my kennis. Ek het niks daarmee te doen nie.”

Verlede Woensdag het Saki die battery gaan steel om sy selfoon mee te charge. Toe hy daaroor uitgevra is, het hy skuld erken. Die beskuldigde was klaarblyklik die moer in en hy het in Saki se pa, Bonisile ­Muku (64), se teenwoordigheid gesê hy vat Lu­yanda polisiestasie toe.

Hy het na bewering ­Luyanda se hande en voete vasgebind met cable ties, hom in sy bakkie gelaai en minstens 30 km ver gery voordat hy hom op ’n verlate grondpad aangerand het.

Bosse

“Die man het my met ’n ysterpaal geslaan in my gesig, my regterbeen en -arm.

“My regterarm is gebreek en in gips gesit,” sê Luyanda.

Sowat drie uur ná die aanval het Luyanda in die bosse bygekom. “Toe hoor ek die geluid van ’n kar, en ek begin toe om hulp skree.”

Gelukkig het Paru ­Witbooi (51) van Paterson dié krete gehoor. Hy en ander plaaswerkers het Luyanda te hulp gesnel.

Kapt. André Beetge, ’n ­polisiewoordvoerder, het gesê: “Volgens Saki het die beskuldigde, ’n kontrakwerker wat bome gesnoei het op die plaas, hom op 6 September aangerand.

“Die verdagte het toe na bewering vir Saki vasgebind en gevat na die Kromrivier-grondpad, waar hy Saki met ’n ystervoorwerp geslaan het. ’n Verbyganger het hom hoor skree en hom gehelp.

“Die polisie ondersoek ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer.”

Volgens Beetge is die verdagte Vrydag gearresteer en verskyn hy vandag in die Paterson-landdroshof vir ’n formele borgtog-aansoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters