8 maande gelede
Tiener kry baba, lem haar dood
Jong ma: ’n Meisie (17) van Booysenpark het glo in ’n toilet die lewe geskenk en die baba daarna met ’n mes vermoor. Foto ter illustrasie: democraticunderground.com  ~ 

DIE tonge klap behoorlik oor ’n minderjarige meisie wat na bewering aan ’n gesonde babadogtertjie in ’n toilet die lewe geskenk en die kind toe genadeloos met ’n mes doodgesteek het.

Die skoolgaande tienermeisie (17) van Booysenpark in die Baaise noordelike gebiede het na bewering Sondag begin kla oor erge maagpyn.

Sy sou vanjaar in matriek gewees het, maar haar toekoms is nou onduidelik.

AO Alwin Labans, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van moord en die meisie sal daarvan aangekla word sodra sy uit die hospitaal ontslaan is.

“Omstreeks 12:30 op (Sondag) 8 Januarie het die verdagte oor maagkrampe gekla en die gesin het gedink dis pe­riod pains.

“Sy was in die huis saam met haar ma en antie en het vanuit die badkamer haar niggie gevra om ’n mes te bring.”

Ná ’n gesmeek het die verdagte die mes gekry en haarself weer in die badkamer toegesluit.

“Toe die familie ’n geraas in die badkamer hoor, het hulle die deur oopgedwing om te sien wat aangaan.

“Die hele toilet was met bloed besmeer en in die toiletpot het die pasgebore babameisie met verskeie messteekwonde gelê.”

Die babatjie was toe nog lewend en die ambulans is ontbied na hul huis in Booysenpark.

Toe die paramedici opdaag, is die baba dood verklaar.

Volgens die polisie was die jong verdagte vol bloed toe sy hospitaal toe geneem is.

Opgelei

Henry Quine, voorsitter van die gesondheids­komitee by die ­Weseinde-kliniek, sê hy werk baie met jong swanger ma’s.

“Daar kan 120 dinge wees wat aanleiding kan gee tot só ’n aksie.

“Die kinders is nie opgelei nie en die swangerskappe is onbeplan.

“Wanneer die jong meisies die ouers vertel, is hulle baie teleurgesteld en dit kan voel of die hele wêreld teen hulle draai.”

Quine sê egter die eerste stap wat ’n meisie moet doen sodra sy uitvind sy is swanger, is om haar ouers te vertel.

“Dit kan moeilik wees, want voordat meisies swanger kan raak, is hulle al gedreig (deur die ma of ouma) om ‘nie swanger in die huis in te kom nie’.”

Die verkeerdste ding vir jong swanger ma’s om te doen is om raad te soek by ander jong ma’s wat nie noodwendig weet wat die beste vir die baba sal wees nie.

“Ouers moet ook hul kind ondersteun, nie uit goedkeuring nie, maar om haar te educate om dit nie weer te doen nie.

“Die ouers van die pa van die kind moet ook geraadpleeg word sodat hulle ’n bydrae kan lewer,” sê Quine.

  • In ’n ander voorval is ’n pasgebore babatjie gister in swart plastieksakke toegedraai gevind in die middestad van Durban.

Dié baba is lewend in ’n asblik op die tweede vloer van die Commercial Towers-gebou gevind. Dít is volgens Chris Botha, ’n woordvoerder van Netcare 911.

Botha sê sy span het hard gewerk om die baba te stabiliseer omdat die kind ’n suurstoftekort gehad het.

Die polisie ondersoek ’n saak van verlating.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters