2 maande gelede
Sy hoor geen dreigemente
gelukkiger tye: Jayde Panayiotou en haar eggenoot, Christopher, toe dit nog goed gegaan het. FOTO verskaf  ~ 
CHRISTOPHER PANAYIOTOU
gelukkiger tye: Jayde Panayiotou en haar eggenoot, Christopher, toe dit nog goed gegaan het. FOTO verskaf
lt.kol. Audrey TillFoto’s: DEON FERREIRA
SINETHEMBA NENEMBE

AS SY die woorde “n*** die p**s” en “get the f*ck*r” in haar teenwoordigheid gehoor het, sou sy beslis beswaar aangeteken het.

Só het lt.kol. Audrey Till gister in die Baaise hooggeregshof in die moordverhoor van Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes getuig.

Christopher staan saam met Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko tereg op aanklag van sameswering tot moord, moord, roof met verswarende omstandig­hede, die onwettige besit van ’n vuurwapen, onwettige besit van ammunisie en kaping.

Christopher staan op sy beurt ook tereg op ’n aanklag van dwarsboming van die gereg.

Die saak in die Baaise hooggeregshof spruit uit ’n voorval in April 2015 toe Christopher se onderwyser-vrou, Jayde, voor hul meenthuiskompleks ontvoer en later doodgeskiet is.

Volgens Till was sy op 28 en 29 April 2015 die waarnemende bevelvoerder van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad.

Indruk

Sy sê sy was soms teenwoordig toe haar ondersoekspan – bestaande uit kapt. Rhynhardt “Kanna” Swanepoel en AO Leon Eksteen – vir Luthando Sinyoni, die staat se vyandiggesinde ­artikel 204-getuie, in die kantore van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad in Newton Park ge-interview het.

Volgens Till het Sinyoni ’n goeie indruk op haar gemaak en was hy “well presented”.

Sy voeg by hy was ook nie geboei nie.

Volgens haar het Sinyoni geen beserings gehad nie en hy is ook nie aangerand of gedreig nie. Till sê Sinyoni het in die interviews aan haar gesê hy is gemaklik en verstaan wat aangaan.

Sy het in die kruisondervraging deur adv. Terry Price, Christopher se lawyer, getuig sy het geen idee gehad die interviews met Sinyoni by georganiseerde misdaad se kantore word op band opgeneem nie.

Sy sê sy het nie gehoor die woorde “n*** die p**s” en “get the f*ck*r” word deur haar kollegas in Christopher se onderhoud geuiter nie.

Volgens Till het Sinyoni goed met die ondersoekspan saamgewerk. Sy het in die kruisondervraging bygevoeg sy was teenwoordig toe Christopher by sy ouerhuis in Uitenhage gearresteer is.

Till het getuig kapt. Swanepoel, hoofondersoekbeampte, het Christopher gearresteer en sy regte aan hom verduidelik.

Sy het getuig Christopher het tydens sy inhegtenisneming tjoepstil gebly.

Volgens Till het die ondersoekspan toe afgesit na Christopher se meenthuis in Kabegapark. Hulle het die huis met Christopher se toestemming deurgesoek.

Sy sê toe Christopher se motor deurgesoek is, is daar op ’n selfoon beslag gelê.

Verklaring

Till sê toe die hele span saam met Christopher terugkeer na die kantore van georganiseerde misdaad, het Alwyn Griebenow, sy huidige opdraggewende prokureur, daar gewag.

Till sê Swanepoel het haar verklaring op 4 April 2017 afgeneem deur vrae aan haar te stel. Volgens Till het sy nie in haar dagboek aange­teken Swanepoel het Christopher se regte aan hom voorgelees nie.

Die familie van Jayde en Christopher het albei gister se hofverrigtinge bygewoon.

Christopher was geklee in ’n grys pak.

Regter Dayalin Chetty het die saak tot môre uitgestel omdat Peter Dauberman, wat Sibeko en Nenembe verteenwoordig, nie vandag beskikbaar sal wees nie. Adv. Marius Stander kla aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters