Verlede maand
Skote klap: ‘Ons ken dit nie hier’
hartseer: Abdullahi se familie en vriende betoon die laaste eer by sy begrafnisdiens.Foto’s: theo jeptha  ~ 

DIE laaste note van ’n lied het pas ­weggesterf toe die mans met geboë hoof en ­trane in hul oë die oop graf ­moeisaam begin toegooi het.

Dít was die gesig wat Son gister begroet het tydens Ahmed ­Abdullahi se begrafnis in die Jubilee Park-begraafplaas.

Abdullahi was ’n bekende sakeman van Uitenhage. Hy het glo aandele in Broadway Wholesalers besit.

Hy het wreed aan sy einde gekom toe hy Woensdagaand in Madunaweg in ’n drive-by-skietvoorval doodgeskiet is.

Sy familie was te hartseer om met Son te praat.

Sers. Majola Nkohli, ’n ­polisiewoordvoerder, het gesê die bestuurder van ’n wit Volkswagen Polo het omstreeks 20:00 losgebrand op die twee insittendes van ’n grys Mazda-dubbelkajuitbakkie, waarvan Abdullahi die bestuurder was.

“Daar word beweer twee voertuie, die wit Polo sowel as ’n grys Fiat Uno, het die bakkie van die pad afgedwing, waarna die drie motors gestop het.

“Die Polo se bestuurder het ’n vuurwapen te voorskyn gebring en die 32-jarige Abdullahi geskiet.

“Die passasier is ook in die voorval beseer en na ’n plaaslike hospitaal geneem,” sê Nkohli.

“In dié stadium vermoed die polisie die motief vir die voorval was ’n rooftog, maar niks blyk gesteel te wees nie.”

By Son se aankoms op die toneel was ’n groot, rooi vlek nog duidelik sigbaar waar ­Abdullahi se liggaam in die straat gelê het.

Drie groot, groen sirkels is in die straat geverf waar die patroondoppies geval het.

“Dit was ’n verskriklike gesig om te aanskou,” het David Smith, ’n inwoner van Greenfields, gesê.

“Ek het sy lyk net so gesien. Die bloed het die straat vol gelê.

“Dit was voorwaar ’n tragiese ding wat hier gebeur het.”

Volgens hom word daar nooit in dié woonbuurt geskiet nie en is dié voorval die eerste.

“Ons is baie geskok, want ons ken nie sulke dinge nie,” het hy bygevoeg.

“Ons is baie bang en bly maar in ons huise.”

Nóg ’n inwoner, wat verkies om anoniem te bly, sê sy het groot geskrik toe sy die skote hoor.

“Dit was drie skote. Toe ek dit hoor klap, het ek sommer hier binne-in die huis plat op die grond neergeval,” het sy vertel terwyl sy haar arms oor haar kop gooi om te demonstreer hoe sy geval het.

“Ek het daarna gedink dit was maar net ’n tyre wat gebars het, maar toe ek later die blou ligte van die polisie deur die venster sien, het ek besef iets gaan aan.”

Sy voeg by: “Ek was doodbang en het maar net in die huis gebly.”

Nkohli sê ’n saak van moord sowel as poging tot moord word ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters