Verlede maand
Skole steeds leeg
Khuselwa RantjieFoto verskaf  ~ 
beloftes: Thobeka Galada (links agter) en Akhona Mahleza staan met hul kinders, Bongiwe Galada (voor links), Sibongiseni Galada en Matsidiso Mahleza.
jan tuisbly: Honderde skoolleerders van verskeie skole buite die Baai het gister weer sonder vervoer skool toe gesit.
besige strate: Die ouers van leerders wat nie gister vervoer gekry het nie, is bekommerd dat hul kinders in gevaar is as hulle nie by die skool is nie. Sibongiseni Galada (voor links) en haar sussie, Bongiwe Galada, speel met klippies.Foto’s: deon ferreira
skool leeg: Die onderwysers by die Yellowwoods-plaasskool, Dudu Booi (links) en Khaya­kazi Kweleta, staan in ’n leë klaskamer.

LEERDERS van plaas­skole ry weer met Jan Tuisbly se karretjie omdat die skolevervoerdiens se busse gister nie op­gedaag het nie.

Dít is omdat daar glo nog met diensverskaffers onderhandel word.

Die leerders van die St. Albans-plaasskool buite Nelson Mandelabaai is glo die enigste kinders wat gister opgelaai is.

Leerders van die Colleen Glen-plaasskool, Intermediêre Plaasskool Rocklands, Yellow­woods-plaasskool en Van Stadens-reserwe­skool het blykbaar egter nie busse gekry nie.

Dit is volgens skoolouers die derde keer dat die Oos-Kaapse departemente van onderwys en vervoer beloftes maak oor vervoer wat beskikbaar gaan wees, maar dit dan nie verwesenlik nie.

Laas week het die LUR van die Oos-Kaapse vervoer­departement, Weziwe Tikana, en die LUR van die onderwysdepartement, Mandla Makupula, vergader om oplossings te vind en ooreengekom dat busdienste gister hervat sou word.

Gisteroggend by Son se aankoms in ­Kuyga was die strate vol kinders wat rondspeel in skoolklere.

Die ouers was egter stil, al het die meeste van die leerders nie vervoer gekry nie.

Laas week het betogings gewelddadig geraak toe on­tevrede skoolleerders en ouers Mission-weg versper, ­tyres gebrand en klippe gegooi het.

Die polisie se eenheid vir openbare orde moes ingryp en het traangas, rubberkoeëls en skokgranate gebruik.

Akhona Mahleza (28), ’n ma van Kuyga met twee kinders by Yellowwoods, sê: “Dis nou al drie maande dat ons so sukkel met vervoer.

“Net St. Albans-kinders het vanoggend busse gehad en die res bly by die huis.”

Nog ’n ouer, Amanda Sizani (32) van Kuyga, sê sy kan glad nie bekostig om haar kinders se vervoer te betaal nie.

“Sê nou jy het vier kinders wat moet skool toe gaan? Vir drie kinders vra taxi’s sommer R150,” sê Sizani.

Dudu Booi, departementshoof en onderwyser by die Yellowwoods-plaasskool, sê die klasse is dolleeg.

“Ons sukkel elke kwartaal hiermee . Met al die vakansiedae het die leerders werk verloor.”

Estelle Williams, ’n ouer, sê ’n groep ouers het gister by die departemente van onderwys en vervoer opgedaag vir antwoorde.

Gister teen druktyd was die groep ouers in ’n vergadering met die departement van vervoer.

“Die kinders het vanoggend (gisteroggend) gereed gestaan vir skool, maar die diens­verskaffers het glo boodskappe gekry om te sê dat hulle nie vandag moet ry nie.”

Williams sê afhangende die terugvoer in die vergadering sal die mense besluit of hulle voortgaan met betogings.

’nWoordvoerder van die ­departement van vervoer, Khuselwa Rantjie, sê die departement handel tans aandie stelling van diensverskaffers af en dié proses is nie sonder uitdagings nie.

Mali Mtima, woordvoerder van die onderwysdepartement, het bevestig diensverskaffers word tans aangestel.

“Ons vra dat gemeenskapslede geduldig met ons moet wees, want die regering werk hard om hierdie krisis uit te sorteer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters