6 maande gelede
Skole kry wéér die agterspeen
Mandla Makupula  ~ 

AL IS infrastruktuur-ontwikkeling een van die belangrikste programme van die Oos-Kaapse onderwysdepartement (OKOD), is die begroting daarvoor verminder.

Dis een van bekommernisse wat die provinsiale portefeuljekomitee oor onderwys uitlig in ’n oorsigverslag oor die OKOD se begroting vir die boekjaar 2017/2018.

Die verslag is gister in die Oos-Kaapse wetgewer in Bhisho ter tafel gelê.

Die departement van Mandla Makupula, LUR vir onderwys, het ’n begroting van R32,989 miljard vir die boekjaar onder bespreking ontvang.

Dit dui op 8,9% meer as wat in die boekjaar 2016/2017 bewillig is.

Die begroting vir infrastruktuur (R1,6 miljard) het egter met 9,9% afgeneem van die R1,8 miljard wat in die vorige boekjaar bewillig is.

Die komitee het bevind die syfers vir die getal koshuise wat gebou moet word, stem nie op die OKOD-dokumente ooreen nie.

Meer finansiering is ook nodig as die departement wil hou by die infrastruktuur-spertye soos neergelê deur nasionale norms en standaarde.

Ander bevindings is:

  • Die OKOD het nie ’n strategie om onderhoud by skole te doen nie en gevolglik het verskeie skole reeds in duie gestort.

Die begroting hiervoor is ook minimaal en gevolglik kan agterstande nie aangepak word nie.

  • Skole word ingevolge ’n rasionaliseringsprogram regoor die provinsie gesluit, maar daar is geen sekuriteit by die leë skole nie en die geboue word nou deur kriminele geteiken.
  • Die sluiting van dié skole het ook veroorsaak dat die skole waarnatoe leerders nou uitgeplaas word, te klein raak.
  • Hoewel die verskaffing van meubels onder die beheer van die nasionale departement van basiese onderwys val, het verskeie skole in die Oos-Kaap geen meubels nie.

Sekere probleme wat by openbare skole uitgelig is, is dat verskeie onderwys nie vaardig is nie en dat onnies ook gereeld siek is.

’n Onderwyser­tekort, veral in spesialis-vakke soos wiskunde en wetenskap, bly ook ’n probleem.

Die laat of vertraagde lewering van onderwysonderrig-onder­steuningsmateriaal (LTSM) is nóg ’n probleem wat ook herhaaldelik opduik.

Die departement se hantering van spesiale skole, soos die Spesiale Skool Westview in die Baai, is ook skerp deur die komitee gekritiseer.

Luidens die verslag is daar ’n tekort aan ’n strategiese plan om onderwysers en nie-doserende personeel na spesiale skole uit te plaas.

’n Paar ander kwessies wat pla, is:

  • Nie alle spesiale skole het koshuise nie.
  • ’n Groot aantal leerders met ’n verskeidenheid gestremdhede kry weens ’n tekort aan spasie nie plek in spesiale skole nie.
  • Daar is ’n groot aantal vakante poste onder onderwysers en nie-doserende personeel.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters