5 dae gelede
Prokureur loop hof vir diefstal
DANIE GOUWS  ~ 
moeilikheid: Shaun Masimla en kapt. Faranaaz Brown betree die Baaise landdroshof. Foto’s: DEON FERREIRA
SHAUN MASIMLAFoto: FACEBOOK
DANIE GOUWS

’N BEKENDE Baaise prokureur word daarvan beskuldig dat hy miljoene rande by ’n gestremde man gesteel het.

Shaun Masimla, wat al die afgelope 17 jaar as regsverteenwoordiger praktiseer, het gister in die Baaise landdroshof op ’n aanklag van diefstal verskyn.

Die staat beweer Masimla het net meer as R2,4 miljoen van Edison Cunningham gesteel.

Die reuse-bedrag is deur die Padongelukfonds (POF) aan Cunningham uitbetaal nadat hy in 2001 in ’n karongeluk verlam is.

Luidens die klagstaat het Masimla die saak in 2011 oorgeneem en op 3 Januarie 2012 het die fonds meer as R173 000 by FNB in die trustrekening van “Shaun Masimla Attorneys” betaal.

Dit was deel van die skikking wat die fonds met Cunningham aangegaan het.

Die staat beweer verder op 2 Februarie 2012 is R960 000 en op 2 April 2013 is bykans R2,4 miljoen in die trustrekening van Masimla se praktyk betaal.

Oorgegee

Die klagstaat dui aan dat Masimla glo net meer as R1,1 miljoen aan Cunningham uitbetaal en R2,4 miljoen in sy sak gesteek het.

Danie Gouws, Masimla se regsverteenwoordiger, het tydens ’n aansoek om borgtog aangedui sy kliënt het hom gister vrywillig aan die polisie oorgegee.

Gouws het bygevoeg Masimla is die pa van twee kinders en besit ’n huis. Hy hou daarom geen vlug­risiko in nie.

Hy’t bevestig Masimla het geen vorige veroordelings of hangende sake teen hom nie.

Gouws het gevra borgtog van R1 000 moet toegestaan word oor Masimla glo net R10 000 per maand verdien.

Gouws het ook aangedui Masimla is van plan om onskuldig te pleit.

Bongo Mvinjelwa, staatsaanklaer, het nie borgtog teengestaan nie, maar was nie tevrede met Gouws se voorstel van borgtog van R1 000 nie.

Die staat het gevra borgtog moet op R5 000 vasgestel word.

Mvinjelwa en Gouws het egter uiteindelik ooreengekom op ’n borgtog-bedrag van R2 000.

As deel van die borgtogvoorwaardes word Masimla verbied om enige kontak met Cunningham of sy vrou te maak.

Gouws het aanvanklik aan die hof gesê dit kan problematies wees, aangesien die klaers glo sy kliënt gereeld kontak en lastig val.

Volgens hom het Masimla nog nooit vantevore met die Cunninghams kontak gemaak nie.

Die saak, wat deur kapt. Faranaaz Brown ondersoek word, is tot 12 Februarie in die Port Elizabeth-handelshof uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters