5 dae gelede
‘Oorlog woed by laerskool’
mandla makupulaFoto: son  ~ 
verwoes: Die klaskamer het g’n dak oor nie.Foto’s: deon ferreira
steeds onbruikbaar: Die brandskade wat die Laerskool in November 2015 opgedoen het, is steeds nie herstel nie.
tragies: Boeke en banke lê nog in die klaskamer.

GANGSTERISM, geweld en intimidasie bring die Laerskool Bayview in Helenvale byna tot stilstand.

Dit is een van die bevindings in ’n verslag wat deur die Oos-Kaapse portefeuljekomitee oor onderwys saamgestel is.

Die verslag is opgestel nadat die komitee verskeie Oos-Kaapse skole van 24 tot 28 Julie besoek het.

Die gewelddadige bendebedrywighede in die gemeenskap skrik onderwysers glo af om by die skool te werk.

Luidens die verslag wil onderwysers nie om poste by die skool aansoek doen nie.

As leerkragte wel aangestel word, doen hulle kort daarna aansoek om verplaas te word.

“Die gebied word as ’n lae-intensiteit-oorlogsone beskou en leerders, onderwysers en beamptes se lewe word bedreig,” lui die verslag.

“Dit het ’n negatiewe impak op skoolbedrywighede en belangrike projekte het tot stilstand gekom.”

Die komitee het ook bevind geweld en intimidasie is die rede hoekom die projek om brandskade aan die skool te herstel, stilstaan.

In November 2015 het drie klaskamers, die dak op die tweede verdieping en ’n pakkamer met skryfbehoeftes en handboeke uitgebrand.

Die skool ondervind ’n ernstige tekort aan handboeke, klaskamers en meubels.

Die komitee het die volgende aan die departement van Mandla Makupula, die LUR vir onderwys, uitgelig:

  • Leerders het handboeke, maar die skool het nie nuwes ontvang vir dié wat in die brand verwoes is nie.
  • Die nodige vorms om meubels te ontvang, is nie ingedien nie, maar daar is ook nie stoorplek vir enige nuwe meubels nie omdat die klaskamers nog nie herbou is nie.
  • Die departement gee aandag aan uitdagings wat dwelm- en drankmisbruik betref, terwyl ouers, ander departemente en instellings ook betrokke is.
  • Twee afgetrede onderwyseresse, wat onderskeidelik 41 en 48 jaar by die onderwys betrokke was, gee onderrig by die skool sonder enige verwagting van betaling.

Son het betroubaar verneem omdat herstelwerk nog nie aan die afgebrande klaskamers op die tweede verdieping gedoen is nie, begin water nou na die klaskamers op die eerste verdieping deursypel.

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement (OKOD) het die skool blykbaar op ’n priori­teitslys geplaas om herstelwerk en herbouings te ondergaan.

Intussen voel die onnies en leerders steeds onveilig by die skool.

Gedurende die komitee se besoek in Januarie is gesê daar is vier verskillende gangs wat in die vier strate rondom die skool operate.

Die probleem is dat van die kinders familielede van gangsters is en hulle dan die oorlog na die skool bring.

Mali Mtima, ’n departementele woordvoerder, het gister gesê navrae oor die skool is na Ernest Gorgonzola, direkteur van die Nelson Mandelabaai-onderwysdistrik, verwys.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters