2 maande gelede
Onnies: 488 kom by
Nog onnies: Sakhumzi Somyo, LUR vir onderwys, sê 488 nuwe onderwys-poste is vir 2018 in die provinsie beskikbaar gestel.Foto: son  ~ 

DAAR sal in 2018 altesaam 488 onderwysposte by skole in die Oos-Kaap oopgestel word.

Sakhumzi Somyo, die LUR vir onderwys, het gister die provinsie se lys van norme vir die voorsiening van poste (PPN) vir 2018 uitgereik.

Die PPN is ’n jaarlikse gebeurtenis wat die Oos-Kaapse onderwysdepartement (OKOD) ingevolge die wet moet uitvoer.

Dié verklaring gebeur nadat ’n konsultasieproses met onderwysvakbonde en skoolbeheerliggame gehou is.

Somyo het ­verduidelik: “Dié jaar, soos met vorige jare, het ons die proses bestuur deur die gebruik van ’n bestuursplan.

“Dit sluit in formele inligtingsessies met die partye wat die verskillende verenigings verteenwoordig.

“Hoewel die onderwys in die Oos-Kaap baie uitdagings het, word daar vordering gemaak.”

Hy het gesê die volgende tekens bewys dit:

  • Arbeidsverhoudings, wat voorheen deur konfrontasie en wantroue gekenmerk is, het verbeter. Nou is daar ’n groter gewilligheid om konstruktief betrokke te raak oor areas van verdeeldheid;
  • Die ooreenkomste wat bereik is deur onderwysvakbonde en wat gelei het tot die Gesamentlike Ooreenkoms 1 van 2014, is ’n groot mylpaal vir die OKOD; en
  • Die rasionalisering van klein en onlewensvatbare skole is goed op dreef. Daar is ’n groeiende aanvaarding dat die saamvoeging van bronne in skole die beste manier is om basiese onderrig van gehalte te verskaf.

“Ek het al die kritieke faktore teen mekaar opgeweeg en ’n bevinding gemaak.

“Ek verklaar dat 54 026 die PPN vir 2018 is, met 6 377 vir nie-onderrig-ondersteuningspersoneel by openbare skole,” het Somyo gesê.

Die poste het dus van 53 538 poste vanjaar tot 54 026 volgende jaar gestyg.

Die OKOD het gesê die onderwys-leerder-verhouding by skole sal nooit meer as 1:36 wees nie.

Daar is ook nou 1 995 poste vir grondslagfase-ondersteuning, insluitend gr. R.

Sekondêre skole en skole met een onderwyser sal ’n spesiale oorweging kry.

Geen skool sal poste verloor nie, behalwe as daar ’n afname van meer as 40 leerders van November 2016 is.

In so ’n geval sal die onderwyser verskuif word na waar sy/haar dienste nodig is.

Die OKOD het gesê 96% van die skole in die provinsie sal hierby baat vind of sal dieselfde bly.

Richard Draai, sekretaris van die Northern Areas ­Education Forum (Naef), en Mali Mtima, OKOD-woordvoerder, kon teen druktyd nog nie bevestig hoe dié onderwysposte die Baaise noordelike gebiede sal raak nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters