2 maande gelede
Nuwejaar skoon begin vir Rastas
hêppie, hêppie: Christopher Grootboom, Ricardo Swanepoel en Adrian Bain gesels oor die Rastafariese nuwe jaar wat hulle Maandag gevier het.Foto’s: deon ferreira  ~ 
hêppie, hêppie: Christopher Grootboom, Ricardo Swanepoel en Adrian Bain gesels oor die Rastafariese nuwe jaar wat hulle Maandag gevier het.Foto’s: deon ferreira
big shot: Adrian Bain is die voorsitter van die House of Rastafari Council in Helenvale.
Gregoriaanse kalender: Ricardo Swanepoel van Helenvale sê regoor die wêreld vier Rastafariërs Nuwejaarsdag op 11 September.Foto: deon ferreira
samesyn: Yvonne Brown (links) en haar man, Jerome Brown, van Tiryville in Uitenhage vier ook Maandag hul Nuwejaarsdag. Foto: werner hills/netwerk24

HOEWEL hulle Maandag Nuwejaar gevier het, het hulle­ gister nie met babalas gesit nie, want hulle is Rastafariërs.

Die Rastafariese nuwe jaar is oor die wêreld heen Maandag gevier.

Soos dié van heelwat ander gelowe, val dit nie nood­wendig saam met Nuwejaar op die Juliaanse kalender nie.

Adrian Bain, die voorsitter van die Helenvale House of Rastafari Council in die Baai se Northern Areas, het verduidelik: “Ons vier Nuwejaar elke 11 September.

“Ons hou by die Grego­riaanse kalender. Ons Kersfees is op 7 Januarie.

“Ons vier Nuwejaar nes ander mense hulle s’n vier: Vriende en families kuier by mekaar en eet saam.”

Oor die vieringe in sy huis in Helenvale het Bain vertel: “Ons het garments gedra vir die geleentheid – wit met rooi, groen en geel.

“Ons het almal saam (dagga) gerook en daarna lekker snoek en ander vis gebraai.”

Yvonne Brown van Tiry­ville in Uitenhage sê die Rastas in hul gebied het bymekaar gekom en lekker gesels en geëet.

Brown het verduidelik: “Ons werk volgens die Ethi­o­piese kalender.

“Ons kom elke Nuwejaar bymekaar en maak ’n pot. Ons gee ons kinders ook gifts en luister musiek.”

Brown sê vir spesiale geleenthede dra hulle ook wit klere met geel, groen en rooi daarin.

Haar man, Jerome, sê Nuwe­jaar is baie spesiaal.

Dit bied hulle die geleentheid om hulle te suiwer van booshede soos haat en ­leuens.

Jerome het gesê: “Ons was nie so ’n groot groep nie omdat die meeste Rastas Knysna toe is.

“Ons het ’n lekker groentepot gemaak met ongesuurde brood.”

Jerome het gesê daar is verskeie vorms van die geloof: Party loop kaalvoet en ander dra uitrustings van goiing of veelkleurige kommersiële uitrustings.

Party smeer weer as aan hul gesig.

Kerk

Ricardo Botha van Booysenspark het gesê daar is ongelukkig verdeeldheid onder die Rastas in sy gebied.

Een van die redes daarvoor, het hy gesê, is omdat hulle nie ’n kerk het nie.

Botha het gesê: “Die Vader het in ’n droom vir my gesê ons moet ons land skoon hou.

“Ek glo ons Rastas moet saamstaan en die Northerns skoonmaak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters