5 dae gelede
Niks stuit hom nie
spog: Larry Jackson-Van Vuuren (38) van Salsoneville het vanjaar sy doktorsgraad in fisiologiese skeikunde: bio-informatika gekry.Foto’s: deon ferreira  ~ 
spog: Larry Jackson-Van Vuuren (38) van Salsoneville het vanjaar sy doktorsgraad in fisiologiese skeikunde: bio-informatika gekry.Foto’s: deon ferreira
sterker: Gloria Jackson (67) en haar seun, Larry Jackson-Van Vuuren (38), vertel van sy moeilike kinderjare.
uitblink: Gloria Jackson is trots op haar seun, wat ’n doktorsgraad in fisiologiese skeikunde gehaal het.
dankie: Larry Jackson-Van Vuuren is dankbaar vir die mense wat hom ondersteun het deur die jare.
slim: Larry Jackson-Van Vuuren werk aan ’n toestel wat borskanker vroeg optel.

HOEWEL hy amper ­heeltemal blind is, het dr. Larry Jackson-Van Vuuren (38) van ­Salsoneville in die Baaise noordelike gebiede uitgestyg bo sy eie verwagtinge.

Vandag is hy ’n doktor in fisiologiese skeikunde, en dit het hom 13 jaar gevat om sy droom te bereik.

Die kwalifikasie stel hom in staat om lewende selle te bestudeer, te ontrafel en na te vors om meer uit te vind oor moontlike mediese voordele wat verskillende verbindings vir die mens inhou.

Jackson-Van Vuuren het harde bene gekou en hy het moeilik aangepas in ­mainstream-skole as gevolg van sy gebrek.

Gloria Jackcon (67), ­Jackson-Van Vuuren se ma, sê: “Larry is op 26 weke gebore. Ná die geboorte het hy doodstil gelê en nie eens gehuil nie – ek’t gedink hy’s dood.”

Jackson-Van Vuuren is vir ’n paar maande in ’n broeikas gesit voordat hy kon huis toe gaan.

Die hospitaalpersoneel het glo nie Jackson-Van Vuuren se oë toegemaak terwyl hy in die broeikas was nie. Die suiwer suurstof het volgens Jackson veroorsaak dat sy een oog heeltemal blind is en die ander minimaal kan sien.

“Ek voel dis nalatigheid van die hospitaal. Daar was ’n saak teen die hospitaal, maar ek’t dit laat vaar. My man het ’n kolon-operasie ondergaan, maar dit was onsuksesvol en hy het gesterf,” vertel Jackson.

Op driejarige ouderdom het Jackson agtergekom haar seun loop heeltyd vas teen goed. “Toe hy op laerskool was, het die hoof my gebel om te sê dat Larry nie op die bord kan sien nie en dat hy dit nie aan sy personeel wil doen nie. Daarna het ons Larry ingeskryf by ’n skool in Bellville, maar hy was depressief en wou huis toe kom.”

Hul pastoor, Reginald Potgieter, het ’n plek by die Laerskool Machiu gekry.

Onderwysers het spesiaal Jackson-Van Vuuren se notas groot gedruk sodat hy kon sien wat hy leer. “Dit was asof ’n gordyn oopgegaan het vir Larry en hy het nuwe hoogtes bereik,” sê sy.

Jackson-Van Vuuren sê: “Ek’t ’n moeilike kinder­lewe gehad en is op skool gespot oor my oë oormekaar kyk. As dit nie was vir die mense langs die pad wat my gehelp het nie, sou ek nie vandag gewees het waar ek nou is nie.”

Edmund van Vuuren van die DA is Jackson-Van Vuuren se oom, en was destyds ’n skoolhoof by die ­Hoërskool Hillside, waar Jackson-Van Vuuren skoolgegaan het.

Jackson-Van Vuuren wou ’n mediese dokter wees, maar sy gebrek het hom gekeer.

Toe vind hy meer uit oor biochemie en skryf in aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Daar het hy sy BSc- en honneursgraad voltooi.

Hy het teruggekeer Baai toe en sy meesters- en doktorsgraad verwerf aan die ­Nelson Mandela-Universiteit.

“Ek werk aan ’n toestel wat borskanker in ’n vroeë sta­dium kan aandui.

“Ek wil net dankie sê vir almal. Aan diegene met gebreke – hou moed en volg jou drome, want met harde werk en toewyding is enigiets moontlik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters