6 dae gelede
Nealon getuig oor tatoes op sy lyf
Deon Harmse (links) en Nealon Redhouse. Foto: Lulama Zenzile  ~ 

NEALON Redhouse sê hy likes van guns.

So het adv. Mujaahid Sandan, staatsaanklaer, Redhouse (19) gister gelei om te getuig in sy moordverhoor in die Baaise hooggeregshof.

Redhouse staan saam met Deon “Kwas” Harmse (24) tereg op ’n klag wat verband hou met die oortreding van die Suid-Afrikaanse Polisiedienswet, poging tot huisbraak met die opset om moord te pleeg, huisbraak met die opset om moord te pleeg, ’n moordklag en twee klagte van poging tot moord.

Liggaam

Hul hofverskyning kom nadat die 12-jarige Aaliyah “Angel” Tee op 7 Junie 2016 in haar ouerhuis doodgeskiet is. Haar pa, Edmund, is in die voorval gewond.

Redhouse se onthulling gister dat hy van guns hou, het gekom toe die staat hom in kruisondervraging uitgevra het oor sekere tatoeëermerke aan sy liggaam.

Op sy regterhand het hy ’n tatoe wat lui “RDN 206”. Volgens Redhouse staan die “R” vir robana.

Op dieselfde hand het hy ’n tatoe van ’n hand wat ’n geldsak vashou met dollar signs daarop.

Toe hy uitgevra is oor die tatoe van ’n Springbokkie aan sy nek, het hy gesê dit verwys na die Springbok­rugbyspan.

Sandan het Redhouse daarna gevra om sy hemp uit te trek vir moontlike ander tatoes aan sy lyf.

Regter Mandela Makaula het Redhouse gevra of hy gemaklik is om dit te doen. Redhouse het toe gevra die media en ander hofgangers moet die hofsaal verlaat voordat hy sy hemp uittrek.

Makaula het dié versoek toegestaan.

Sandan het Redhouse uitgevra oor twee vuurwapens wat na mekaar toe wys wat op sy rug getatoeëer is.

Redhouse antwoord toe dis bloot ’n tatoe.

Redhouse het getuig hy het gekies om die guns op sy rug te laat tatoeëer omdat hy net so gevoel het. Hy het aanvanklik gesê hy hou nie van guns nie.

Toe Sandan vir Redhouse ná ’n rukkie weer vra of hy van guns hou was sy antwoord: “Jy kan maar so sê...”

Weerskante van Redhouse se bors is daar ’n tatoe van ’n “2” aan sy regterkant en ’n tatoe van ’n “6” aan die linkerkant van sy bors.

Nadat Redhouse aanvanklik erken het hy is lid van die 26’s-bende, het hy dit toe weer ontken.

Toe Makaula hom uitvra oor sy teenstrydige antwoord, toe sê hy weer hy is lid van die 26’s-tronkbende.

Volgens Redhouse moet hy die 26-tjappie dra om homself in die tronk te beskerm.

Vroeër gisteroggend het Redhouse in sy hoofgetuienis vertel hy is die oudste van vyf broers en een suster.

Volgens hom woon hy, sy broers en suster saam met sy ma en stiefpa.

Redhouse getuig hy ken Harmse vir sowat ’n jaar en hulle hang gewoonlik saam uit by die smart shop oorkant sy ouerhuis in Barberrylaan.

Volgens Redhouse was hy bevriend met Aaliyah se ouer broer, Zayno. Hy sê hulle het saam skoolgegaan.

Redhouse het getuig hy is nie ’n gangster nie en dat hy die aand van Aaliyah se moord – tussen 22:00 en 00:00 – by die huis geslaap het van ene antie Courtney, wat verder af in Barberrylaan woon.

Volgens hom het sy ma die betrokke aand – terwyl hy besig was om te slaap – by antie Courtney se huis ingehardloop en gesê daar was ’n skietery “next door”.

Redhouse sê ’n paar dae voor Aaliyah se dood het Edmund hom en Harmse genader waar hulle by die smart shop gestaan het.

Volgens Redhouse het Edmund aan hulle gesê hy het rumours gehoor Redhouse en Harmse wil hom skiet.

Redhouse het getuig Edmund het nie gesê by wie hy dit gehoor het nie.

Volgens Redhouse het hy en Harmse net gelag toe Edmund hulle vertel van die rumour. Hy voeg by hulle het gedink Edmund maak ’n joke.

Volgens Redhouse het dié aantyging deur Edmund hom glad nie ontstel nie.

Adv. Jodine Coertzen verskyn vir Redhouse. James O’Riley verskyn vir Harmse.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters