4 maande gelede
Meisies kry hulp
dankbaar: Leerders van die Senior Sekondêre Skool Booysenpark is baie bly oor die donasies van sanitêre doekies. Links agter staan Brendan Hector en Virgilino Russel van die Be The Difference Foundation.Foto’s: deon ferreira  ~ 
dankbaar: Leerders van die Senior Sekondêre Skool Booysenpark is baie bly oor die donasies van sanitêre doekies. Links agter staan Brendan Hector en Virgilino Russel van die Be The Difference Foundation.Foto’s: deon ferreira
groot donasie: Virgilino Russel (middel agter), voorsitter van Be the Difference Foundation in die Baai, oorhandig gister pads aan skoolmeisies.

BRANDARM tieners wat hul maandstonde het maar nie oor die nodige produkte beskik nie, hoef nie meer uit skaamte in die huis weg te kruip en sodoende skool mis te loop nie.

’n Baaise organisasie sonder winsoogmerk (OSW) het tot dié meisies se redding gekom en gister swart sakke propvol sanitêre doekies aan hulle uitgedeel.

Gr. 10 tot 12-leerders van die Senior ­Sekondêre Skool Booysenpark in die Baaise ­Northerns is gister aangenaam verras toe die Be The Difference Foundation hulle besoek het.

Die stigting is in 2014 in Kaapstad gestig en het in laas jaar in Port Elizabeth se noordelike gebiede begin werk. “Ons groep bestaan uit vriende, familie en ­vrywilligers. Ons het ’n goeie verhouding met skole in Port Elizabeth,” sê Brendan Hector, ’n uitvoerende lid van die stigting.

Dit is deur dié verhouding dat die organisasie uitgevind het daar is ’n groot behoefte vir ­sanitêre doekies by Booysenpark Senior Sekondêr.

Die sowat 500 pakke doekies wat vroeër ingesamel is, bestaan uit sowat 4 000 ­individuele doekies.

Hector sê: “Baie kinders bly weg van die skool af omdat hulle hul maandstonde het. Dit affekteer hul gemoedstoestand, veral as hulle nie die doekies kan bekostig nie.

“Dis hoekom ons die ­inisiatief geskep het, en ook omdat dit Vrouemaand is.”

’n Leerder sê meisies wat hul maandstonde het, is gedurig afwesig om verskeie redes. “Eerstens is hulle skaam om die onderwysers te sê hoekom hulle by die huis bly en baie meisies kan eenvoudig net nie sanitêre doekies bekostig nie.”

Die hoof, Ivan Martins, sê: “Ons is baie dankbaar vir die donasies, want dis ’n groot saak vir dogters.

“Die organisasie het saam met ons lewensoriëntering-onnies gewerk en dis hoe die behoefte geïdentifiseer is.”

Volgens hom verkoop die skool ook sanitêre doekies teen 50c of R1 stuk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters