5 dae gelede
Manhunt ná moord op 2 mans
 ~ 

DIE polisie is hard op soek na die verdagtes wat Maandag twee mans in Kwa­Nobuhle, Uitenhage, doodgeskiet het.

Die polisie het ’n beroep op die publiek gedoen om hulle te help met inligting oor die skietvoorval.

“Speurders het ’n manhunt begin ná die sinnelose moord op twee mans,” het kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, gesê.

Uitgeken

“Twee mans (18 en 30 jaar) het na bewering Maandag 13:00 in Ngcwabestraat geloop toe skote afgevuur is. Een man is noodlottig gewond en die ander is op pad hospitaal toe dood. Die motief is in dié stadium onbekend.”

Die name van die twee slagoffers sal bekend gemaak word sodra hul naasbestaandes hulle uitgeken het. Die polisie ondersoek twee sake van moord en speurders volg alle leidrade na.

Enigiemand wat met ­inligting oor die moorde kan help, word gevra om AO Deon Arnolds te bel by 082 319 9223 of 083 336 1086.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters