2 maande gelede
Lede in tronk in streng range ingedeel
 ~ 

DIE nommers-tronkbendes en hul rang-struktuur in sommige Suid-Afrikaanse tronke is verbasend georganiseerd en noukeurig uiteengesit.

Daar word gesê dié bendes opereer meestal in die Pollsmoor- gevangenis in die Wes-Kaap, maar dat ander tronke ook deur hulle beheer word.

Volgens Julian Julies, ’n oud-gangster van Schauderville, is die 26’s-bende verdeel in twee seksies, naamlik die nommer 1’s en nommer 2’s. Nommer 1’s bestaan uit ongewapende privaat lede en nommer 2’s uit offisiere.

“Nommer 1’s het ’n generaal, wat al die wette van die bendes ken. Inspekteur 1 onder die nommer 1’s-seksie moet verseker dat al die strawwe uitgevoer word en hy gee uniforms aan die nuwe rekrute.

“Dokter 1 inspekteer die nuwe rekrute deur te kyk na hul oë en ore vir enige kopwonde en dan te besluit of hulle in staat is om die bende te join,” sê Julies.

“Kaptein 1 is die kaptein van bloed en het toestemming om ander te steek.”

Dié kaptein het gewoonlik ses sterre getatoeëer op sy skouers.

“Verder het die nommer 1-seksie ook ’n klerk, advokaat en regter.

“Nommer 2’s het te doen met die ontgroening van nuwe rekrute.

Sterre

“Die veggeneraal gee toestemming aan die nommer 1’s om hulself te bewapen met vuurwapens.”

Die veggeneraal het gewoonlik agt sterre op sy skouers getatoeëer, gewoonlik vier op elke skouer.

“Inspekteur 2 neem alle rituele (soos messtekery) waar en maak seker dat alle pligte uitgevoer word. Hy speel ook ’n rol in die bevordering van bendelede.”

Net soos die nommer 1-seksie, het die nommer 2-seksie ook ’n dokter. Hy inspekteer ook rekrute om hul geskiktheid te bepaal.

“Dan is daar ’n regter 2, wat insit vir enige klein hofsake van bendelede en toesig hou oor vonnisse wat opgelê is,” sê Julies.

“Die prokureur-rang pleit namens die pleger, en die skrywer-rang is ’n sekretaris en boekhouer,” verduidelik Julies.

“Kaptein 2 is ook geken as ’n wireless operator – hy soek vir nuwe rekrute en memoriseer besluite wat geneem is tydens inter-gang-vergaderings.”

Dié kaptein het gewoonlik vier sterre op sy arms getatoeëer. “Kaptein 2 oorsien ook alle rituele stabbings saam met inspekteur 2.”

Julies voeg by: “Nie alle aspekte van die funksies van elke rang is bekend nie, omdat die nommers-bendes geheimsinnig is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters