4 maande gelede
Koshuisbrand – skade bepaal
Themba Kojana Foto: NETWERK24  ~ 

KOSHUISKINDERS van Gamble Street ­Sekondêr in ­Uitenhage is die meeste van hul besittings en beddegoed kwyt weens ’n ­verwoestende brand.

Die brand het Woensdag omstreeks 19:00 op die tweede verdieping van die koshuis uitgebreek – vermoedelik in ’n slaapsaal.

Son verneem gr. 8- en gr. 9-leerders slaap in die area waar die brand begin het, maar niemand kon ’n verduideliking gee vir die oorsaak daarvan nie.

Volgens Mali Mtima, woordvoerder vir die Oos-Kaapse onderwysdepartement (OKOD), is daar ook erge rookskade op die tweede verdieping gely.

En die rook het tot in ander gedeeltes versprei en ook daar skade aangerig.

Ál die leerders was in die eetsaal besig met studietyd toe die brand uitgebreek het. Niemand is beseer nie.

Die plaaslike brandweer is na die toneel ontbied om die vlamme te blus.

Ál die leerders is omstreeks 21:30 na die eetsaal verskuif en word voorlopig daar gehuisves.

Volgens die OKOD is die rampbestuureenheid van die Nelson Mandelabaai-metro ontbied om matrasse en komberse aan die leerders te verskaf.

John Best, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het bevestig rampbestuur is na die skool om hulp te verleen.

Themba Kojana, ’n departementshoof van die OKOD, het gesê die departement sal saam met die skool werk om die situasie so spoedig moontlik die hoof te bied.

“Ons het ’n infrastruktuurspan gestuur om ’n beraming (van die ­skade) te doen,” verduidelik hy.

Die span moet vasstel hoe lank dit sal neem om die skade te herstel en te ver­seker dat normale onderrig so spoedig moontlik weer kan begin.

Die skoolhoof, Anne Radcliffe, kon ná vele probeerslae nie vir kommentaar bereik word nie.

Kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, sê geen saak in verband met die brand is by die polisie aanhangig gemaak nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters