3 maande gelede
Kliniek loop al weer deur onder diewe
stewig: Die kliniek se omheining lyk redelik stewig.
loop deur: Die New Brighton-kliniek loop deur onder inbrekers. Foto’s: theo jeptha

NIE eens ’n nuwe omheining en ekstra sekuriteitswagte hou boosdoeners uit die New Brighton-kliniek nie.

Dit nadat Donderdag ’n vierde keer by die kliniek ingebreek is.

Celeste Barker, Oos-Kaapse DA-woordvoerder oor gesondheid, het aan Son op Sondag gesê diewe het weer koperpype geteiken.

Die steel van die pype na die geyser het daartoe gelei dat warm water by die kliniek se tandheelkunde-afdeling ingespuit het.

“Die uiteinde is dat pasiënte wat tandheelkundige dienste nodig het, eers gehelp kan word ná die voltooiing van herstelwerk,” het Barker gesê.

In Oktober verlede jaar het vier gewapende mans die diensverskaffer van ’n selfoon en R7 000 se lone beroof terwyl hy die heining om die perseel opgerig het.

Waterskade

’n Hooggeplaaste afvaardiging, onder leiding van die departement se adjunk-direkteur-generaal, het die kliniek in dieselfde maand besoek.

Grootskaalse herstelwerk moes aan die kliniek gedoen word, veral weens die steel van koperpype en die groot waterskade wat dit aangerig het.

By die kliniek is daar nou twee sekerheidsbeamptes in die dag en twee in die nag. Voorheen was daar net een beampte per skof.

Siyanda Manana, ’n departementele woordvoerder, het verlede jaar gesê al die waterpype word nou met plastiekpype vervang, maar die waterskade aan die mure en vloere moet ook herstel word.

Inbrekers betree die perseel deur die dak en het dít ook beskadig.

Beleidsrede

Manana het Son op Sondag na Sizwe Kupelo, nog ’n gesondheidswoordvoerder, verwys vir kommentaar oor die jongste voorval.

Hy kon egter nie bereik word nie.

Dr. Pumza Dyantyi, die Oos-Kaap LUR vir gesondheid, het vandeesweek in haar beleidsrede vir die 2017-’18-boekjaar op klinieke gefokus.

Volgens haar het die departement hom daartoe verbind om bestuurders by 289 klinieke in die provinsie aan te stel.

Sy het erken uiteindelik is net 57 bestuurders aangestel, maar het beklemtoon aanstellings by en die opgradering en herstel van klinieke gaan in dié boekjaar voorrang geniet.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters