3 maande gelede
Dit was ‘slang se werk’
gevaarlik: Brandon Sampson het dié slang gisteroggend gevang.  ~ 
tragies: Adriaan van Buchenroder by die shack waarin Solomon Jantjies se lyk gevind is. Foto’s: theo jeptha
gevaarlik: Brandon Sampson het dié slang gisteroggend gevang.

’N BLOU gesig en liggaam vol blase is wat party lede van die gemeenskap Saterdagoggend in Ou Lapland gesien het.

Solomon Jantjies (59) is Saterdag dood gevind binne sy shack.

Gemeenskapslede glo die oom is dood van die byt van ’n gevaarlike slang.

By Son se aankoms het Brandon Sampson ’n slang op ’n stok vasgehou. “Sien jy, dis ’n pofadder, en gevaarlike slange soos hierdie is volop in onse area.”

Adriaan van Buchenroder, wat langsaan Jantjies woon, het ’n familielid 07:30 voor Jantjies se deur sien staan.

“Sy het aanhoudend geklop en geroep vir die oom, maar het geen antwoord gekry nie.”

Van Buchenroder het self ingespring en ook voor die deur gestaan en klop.

“Ek het nog ’n joke gemaak en vir die oom gesê die son is lankal op, hy kan nie so laat slaap nie.”

Van Buchenroder sê toe Jantjies nie antwoord nie, het gemeenskapslede bekommerd geraak.

“Ek het sy shack begin afskop om toegang te kry.”

Van Buchenroder sê hy het die skok van sy lewe gekry toe hy die oom se lyk daarbinne gevind het.

“Sy gesig was donkerblou, dit het amper swart gelyk.

“Die hele liggaam was opgeswel en vol blase. Dit was nie ’n mooi prentjie nie.”

Jantjies is Donderdag laas gesien. “Hy het nog hier buite gesit, maar dis die laaste keer dat ek hom gesien het.”

Bure het die polisie daarna ingelig. Die cops was kort daarna op die toneel.

“Ek het vir die forensiese span gevra hoekom die oom dood is. Hulle het gesê dis weens natuurlike oorsake.

“Maar daai oom se lyk het glad nie soos natuurlike redes gelyk nie.”

Van Buchenroder meen die kans was goed dat Jantjies deur ’n slang gepik is.

“Sampson het vanoggend ’n gevaarlike slang hier gevind en ek sal nie verbaas wees as die oom van ’n slangbyt dood is nie.”

Volgens Van Buchenroder was Jantjies ’n liefdevolle mens. “In die begin het hy agter in Lapland gewoon en gemeenskapsleiers het ons gevra om ’n nuwe huis tussen mense vir die oom te bou.”

Van Buchenroder het in Februarie vir Jantjies sy nuwe shack gebou.

“Dit was vir sy eie veiligheid, want die oom het alleen gewoon.”

Volgens die buurman het Jantjies daagliks geloop na familielede in Lapland, Tiryville. “Daar het hy glo gaan eet elke dag.”

Van Buchenroder sê Jantjies was nie sieklik nie. “Eendag het een van sy familielede gesê hy (Jantjies) het net ’n slegte bors en daar’s fout met sy voete.

“Hy het een of ander pyn in sy voete gekry, maar die oom was nooit ernstig siek nie.”

Chantelle Mack sê die vlak is baie gevaarlik vir grootmense en kinders.

“Daar is soveel slange op hierdie vlak en dis gevaarlik.”

Sampson het bygevoeg dat hy die slangman in Ou Lapland is. “Ek kry gereeld slange in die area en die mense is bang.”

Kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, het gesê gemeenskapslede het die polisie ingelig oor Jantjies se lyk in ’n shack.

Volgens Swart was die lyk by die polisie se aankoms reeds in ’n stadium van ontbinding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters