7 dae gelede
Dié beleggings beloof werk vir duisende
Athol Trollip Foto: theo jeptha  ~ 

DIE Nelson Mandelabaai-metro het in die 2016-’17-boekjaar twee ­beleggings ten bedrae van R111 miljoen in die uitkontrakteringsektor na die Metro gelok.

En in die proses is 792 jobs geskep.

Dié statistieke is vervat in ’n verslag wat vandeesweek aan die munisipale staande komitee oor ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou voorgelê is.

Die direktoraat van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou (EDTA) het aanvanklik 13 moontlike beleggers in dié sektor uitgewys.

In die verslag is ’n lys van 11 maatskappye wat in die Metro wil belê weergegee.

Met die beleggings, wat miljarde rand beloop, word daar gehoop om 11 288 jobs in die Metro te skep.

Geldelik kom die grootste ­belegging van die Beijing ­Automobile International ­Corporation (BAIC).

Voorganger

Die eerste sooi vir die bou van die BAIC-voertuigaanleg wat op ’n belegging van R11 miljard dui, is einde Augustus verlede jaar gespit.

Athol Trollip, Baaise burgemeester, het die saak tot voltooiing gedryf, maar die proses is reeds in 2015 deur sy voorganger, Danny Jordaan, begin.

Die R11 miljard is een van die grootste motorverwante beleggings tot dusver in Suid-Afrika.

Die aanleg word in Coega se nywerheidsontwikkelingsone (IDZ) gebou.

Daar word verwag die aanleg sal werk aan 2 500 mense verskaf.

’n Belegging in die hernubare energie-sektor, deur ’n maatskappy genaamd Comtrade, kan egter luidens die verslag vir die grootste werkskepping sorg.

Die belegging van R7,8 miljard sal glo vir 5 000 nuwe jobs sorg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters