8 dae gelede
Ah Shene-saak wag op papiere
 ~ 

DIE saak teen ’n vermeende top-bendeleier is gister in die Baaise handelshof tot 5 Desember uitgestel vir ’n voorverhoor.

Shaun Ah Shene (51) word deur agt klagte van bedrog in die gesig gestaar waarby meer as R2 miljoen betrokke is.

Die tweede beskuldigde in die saak is Ah Shene se sakeonderneming Coral Blue Trad­ing 25 CC.

Ah Shene het gister weer vlugtig in die Baaise handelshof verskyn, waar sy saak uitgestel is. Carolyn Ah Shene, Shaun se regsverteenwoordiger, verduidelik die saak moes uitgestel word, aangesien hulle nog geen dokumentasie in verband met die saak van die staat ontvang is nie.

Voorberei

“Ons vra al van 2014 vir die dokumentasie, maar niks word vir ons gegee nie. Nou beweer hulle dit is oorhandig, maar hulle kan geen bewyse hiervan gee nie,” aldus Carolyn.

“Ons kan nie voorberei vir die saak as ons nie die dokumente het nie. En daarsonder sal Shaun nooit ’n regverdige verhoor kan hê nie.”

Luidens die klagstaat is Shaun op 1 Februarie 1985 as belastingbetaler geregistreer en Coral Blue Trading 25 CC sedert 25 Mei 2006.

Luidens die klagstaat is die inligting vervat in die inkomstebelastingopgawes wat by Sars ingedien is vir die tydperk 2003 tot 2008 nie korrek nie.

Die verklaarde bedrag van R1 083 590 is glo nie die enigste belasbare inkomste wat gedurende dié inkomstebelastingperiodes deur die beskuldigde ontvang is nie.

Shaun het in die inkomstebelastingperiodes van 2003 tot 2008 nóg R6 132 868 ontvang wat veronderstel was om belas te word.

Luidens die klagstaat het Shaun sy inkomste aan Sars onderverklaar en skuld hy Sars nou ’n bedrag van R1 988 531,58.

Met betrekking tot die twee bedrogklagte gemik teen beskuldigde nr. 2, wat deur beskuldigde nr. 1 verteenwoordig word, is die datums 28 Maart 2003 en 6 Maart 2009 wanneer die tax returns by Sars ingedien is, nie korrek nie.

Beskuldigde nr. 2 het toe R438 390 ontvang wat belas moes word.

Coral Blue het sy ­inkomste aan Sars onderverklaar en dus skuld die maatskappy Sars R127 133,00.

Die hooggeregshof het vroeër ’n voorlopige inperkingsbevel aan die ­nasio­nale vervolgingsgesag se ­batebeslagleggingseenheid toegestaan.

Dié bevel is toegestaan teen Shaun, Coral Blue Trading, waarvan hy die enigste lid is, asook sy vrou, Virginia.

Die eiendom wat geraak is, sluit 21 beleggingsrekeninge in, asook 13 vaste eiendomme en kontant in ’n bankrekening.

Shaun het eiendom in Sydenham, Korsten, Mount Road, Noordeinde, Beth­elsdorp en Schauder­ville.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters