9 dae gelede
Moord: cop voor
aangekla: Takatso Mashego verskyn gister in ’n hof in Pretoria.Foto: foto24  ~ 

PRETORIA. – ’n Konstabel van die Tshwane-metropolisie wat na bewering ’n motoris doodgeskiet het, het gister in ’n hof hier verskyn.

Hy was aan diens toe die beweerde voorval gebeur het en is Vrydag gearresteer.

Takatso Mashego (26) het in ’n stampvol hofsaal in Pretoria op aanklag van moord verskyn.

Tsakane Rikhotso, ’n man van in die 30, is verlede week in Hatfield doodgeskiet.

Obed Ledwaba, staatsaanklaer, het met die beskuldigde se verskyning gesê die staat sal borgtog teenstaan.

Hy het gevra dat die saak tot Vrydag uitgestel word, omdat die polisie nog Mashego se adres moet bevestig.

Mashego se prokureur, Peter Jay, het gesê hulle is gereed om ’n borgtog-aansoek te bring. Hy kon nie verstaan hoekom sy kliënt se adres nog bevestig moet word nie.

Landdros Aubrey Mpha­hlele het die aansoek om uitstel toegestaan.

Van die ooggetuies beweer Rikhotso het nie by ’n padblokkade gestop nie, terwyl ander sê hy het ’n motor van die metropolisie gestamp voordat Ma­shego glo op hom geskiet het. – Netwerk24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters