3 maande gelede
Inbraak by hoofregter kwel
bekommerd: Hoofregter Mogoeng Mogoeng is diep besorg oor die inbraak by sy kantore in Midrand. Foto: foto24  ~ 

JOHANNESBURG. – Die regbank sê hoofregter Mogoeng Mogoeng is baie bekommerd oor die inbraak by sy Midrand-kantore en het die polisie gevra om die misdaad in ’n baie ernstige lig te beskou en alles in hul vermoë te doen om die misdadigers aan te keer.

Vyftien rekenaars, wat sensitiewe inligting bevat oor regters en ander amptenare, is Saterdag uit die kantore gesteel.

Die kantore huisves die menslike hulpbronne afdeling.

Van die sensitiewe inligting op die rekenaars sluit die regters se identiteitsdokumente, woonadresse en inligting oor die regters se werk in.

Die woordvoerder van die regbank, Nathi Mncube, sê die polisie ondersoek die saak.

Aanval

Hy sê die afdeling was vir ’n jaar en ’n half in die kantore in Midrand en hulle het sekuriteit en kameras by die kantore.

Hy hoop die polisie vind die misdadigers agter die misdaad.

Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, sê hy beskou die misdaad as ’n aanval op die regstelsel en sien dit in ’n baie ernstige lig.

Saterdag is die Gautengse hooggeregshofregter, Ramarumo Monama, met ’n vuurwapen by sy huis beroof.

Adv. Glynnis Breytenbach van die DA het gesê die party sal vrae in die parlement rig oor hoekom daar nie genoeg sekuriteit by die regter se kantore was nie.

Die party sien ook die misdaad as intimidasie.

Hulle vind dit hoogs verdag dat die inbraak op die dag plaasgevind het waar die konstitusionele hof ’n verdoemde bevinding gemaak het teen die minister van sosiale ontwikkeling, Bathabile Dlamini. – ewn

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters