4 maande gelede
Hof moet sê hoe verkeerd OB is – Reserwebank
Adv. Busisiwe Mkhwebane  ~ 

’N “JAMMER” van adv. ­Busisiwe Mkhwebane is eenvoudig nie goed genoeg nie, sê die Suid-Afrikaanse ­Reserwebank (SARB).

Lesetja Kganyago, president van die SARB, sê in ’n verklaring wat by die hof ingedien is Mkhwebane se blaps – wat sy intussen erken het – was roekeloos en skadelik vir die land.

Dít het veroorsaak dat die rand tuimel, R1,3 miljard se staatseffekte deur buitelandse beleggers verkoop is en graderingsagentskappe met verdere afgraderings gedreig het.

Kganyago sê hulle waardeer die feit dat Mkhwebane nie meer die SARB se hofaansoek teenstaan om haar aanbevelings tersyde te stel nie, maar sy gaan dan steeds voort in haar hofstukke om haar ­stappe te probeer regverdig.

Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het die parlement aangesê om die Grondwet te verander sodat die SARB se mandaat nie meer prysstabiliteit en die beskerming van die rand is nie.

Al die partye wat geraak word in haar verslag – Absa, die parlement, die minister van finansies, en die SARB – het hof toe gehardloop daaroor. Hoewel sy aanvanklik haar verslag hand en tand verdedig het, het sy in haar hofstukke toegegee dit was ’n “eerlike fout”.

Kganyago het in sy verklaring gesê Mkhwebane het nie ’n begrip van die Grondwet of monetêre beleid nie, maar het haarself steeds aangematig om sulke bevindings te maak. Daarom gaan die SARB voort met die hofsaak sodat die hof ­finaal sê hóé verkeerd sy is.

Die SARB was nie die enigste party in die hofsaak wat harde woorde vir haar gehad het nie. Maria Ramos, Absa se uitvoerende hoof, het ook die afgelope week in haar hofverklaring byna in soveel woorde gesê die saak is bo ­Mkhwebane se vuurmaakplek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters