6 maande gelede
Genoeg is genoeg

’N NUWE beweging, saamgestel uit politieke partye, burgerlike en geloofsorganisasies, asook gewone Suid-Afrikaners, gaan onder die vaandel van die Freedom Movement probeer om pres. Jacob Zuma uit die kussings te lig.

Prince Mashele, ’n politieke ontleder, het met Mmusi Maimane, die DA-leier, en Bantu Holomisa, die leier van die UDM, aan sy linker- en regterkant, die Freedom Movement se eerste verklaring aan die media in Soweto voorgelê.

Daar is regstreeks in die verklaring verwys na die president se middernagtelike kabinetskommeling en die daaropvolgende afgradering van Suid-Afrika deur Standard & Poor’s en Fitch Ratings tot rommelstatus.

Die EFF was nie daar nie, maar Holomisa het gesê hy en Maimane verteenwoordig die politieke partye wat die beweging ondersteun.

“Die politieke wanbestuur in ons land het nou kookpunt bereik en dit dreig om ons ekonomie ineen te laat stort,” het Mashele gesê.

Die beweging se eerste samekoms is op Vryheidsdag, 27 April, by Vryheidspark.

Mashele het namens die Freedom Movement uitgewys dat die organisasie se doel is om Zuma uit sy kantoor te kry, om Suid-Afrika se Grondwet te beskerm, die mag terug te plaas in die hande van die mense en om die staat as instrument van transformasie en die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrikaners te beskerm.

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ondersteun volgens Mashele die samekoms.

Hy sê verder die plan is om ’n massa-optog te reël vir buite die parlement wanneer oordie mosie van wantroue in die president gedebatteer word. Volgens Ma­shele is die vakbonde Fedusa en Solidariteit ook deel van die beweging. “Ons kan nie terugsit en kyk hoe die toekoms van ons kinders vernietig word deur ’n skurk van ’n president wat saam met parasitiese elemente vir eiebelang werk nie.

“Dit is ons land. Ons sal dit verdedig,” het die Freedom Movement in die verklaring beklemtoon. – Netwerk24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters