4 maande gelede
ANC-LP na polisie oor intimidasie
DR MAKHOSI KHOZA  ~ 

MAKHOSI Khoza, ANC-LP, het Vrydag sommige van die dreigemente wat sy ontvang het, bekend gemaak. Sy het skermgrepe op Facebook geplaas van die SMS’e met doodsdreigemente wat na haar selfoon gestuur is.

“Dit is wat ek elke dag deurmaak. Nou word aan my gesê ek het 21 dae om te lewe.

“Ek het dit aan die polisie gerapporteer, maar nog niks het gebeur nie!” skryf sy.

Khoza, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor staatsdiens en administrasie, is ’n uitgesproke kritikus van wat sy die ­“politiek van begunstiging” in die ANC noem.

Sy is op rekord dat sy aan Baleka Mbete, die speaker, geskryf het om te versoek dat die komende mosie van ­wantroue teen pres. Jacob Zuma om veiligheidsredes deur middel van ’n geheime stemming gedoen word.

Dieselfde

Die stemming vind op 8 Augustus plaas en die ANC in die parlement het ’n beroep op sy LP’s gedoen om teen die mosie te stem.

Die SMS-boodskappe wat sy Vrydag op haar Facebook-blad geplaas het, is almal van dieselfde nommer.

Een boodskap lui: “Ek sal jou vind en jou doodmaak.”

Nog ’n boodskap van dieselfde nommer lui: “Jy het 21 dae voordat jy sterf.”

Khoza het ’n SMS teruggestuur en gevra wie die SMS’s stuur en waarom hulle haar dood wou hê. Die antwoord het gelui: “Stem teen die ­mosie en trek jou stellings en kommentaar oor die geheime stemming terug. Doen wat die beste is vir jouself en jou familie.”

Khoza se antwoord hierop was: “Onsin. Gaan voort.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters