6 dae gelede
Vrou se huis op 5 se naam
stomgeslaan: Wendy Carstens (53) voor haar huis wat sy wil verkoop. Foto: peter abrahams  ~ 

’N GESKEIDE vrou het die skok van haar lewe gekry toe sy haar huis wou verkoop en uitvind daar is nog vier ander mense se name op die titelaktes.

Wendy Carstens (53) sê sy sukkel om haar huis in Voorbrug, Delft, te verkoop en vermoed bedrog in die departement van behuising is die oorsaak.

Sy sê dit is vreemd dat haar naam, haar eks-man, sy tweede vrou, dié vrou se huidige man, sowel as die eks-man se huidige vrou, se name op die titelaktes verskyn onder “eienaars”.

Carstens sê: “Ek het nog nooit van só iets gehoor nie. Ek is al in 1994 geskei.

“Toe ek gaan uitvind van my titelaktes, het ek ontdek vyf mense se name verskyn daarop.

“Hoe is dit moontlik? Dit wil nou sê as ek die huis wil verkoop, moet al die ander partye eers hul toestemming gee. En dan moet ons nog die geld ook tussen ons verdeel.”

Carstens sê sy woon al sedert haar egskeiding, op 18 November 1994, alleen in die huis nadat sy en haar eks ooreengekom het dat sy die plek kan kry.

Carstens sê: “Ek het die kinders alleen grootgemaak. Hulle was nog jonk en ek moes alleen vir hulle sorg.”

Die Wes-Kaapse behuisingsminister, Bonginkosi Madikizela, se woordvoerder, Ntomboxolo Makoba-Somdaka, sê egter Carstens se egskeidingsbevel maak geen melding daarvan dat die huis aan net een party toegeken moet word nie.

Makoba-Somdaka sê: “Mnr. Carstens moes sy 50%-porsie van eienaarskap deel met die twee eggenote met wie hy in gemeenskap van goedere getrou het sedert sy egskei­ding in 1994.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters