6 maande gelede
Verdagte huil ná arrestasie
Tjankbalie: Die man begin huil toe die cops hom vang. Foto’s: Fu’ad Rahman  ~ 

’N VERMEENDE drug runner (37) het Woensdag nes ’n pap baba gehuil toe die Stad Kaapstad se metropolisie hom op ’n oop stuk veld in Lavender Hill vang.

Die cops was besig met ’n operasie in die gebied toe die verdagte hulle gewaar en vinniger as ’n kampioen-sprinter weghol.

Hy het sy drugs ge-dump, maar ’n snuffelhond van die polisie het dit gou uitgeruik.

Toe die cops hom vang, het hy in trane hardop uitgeroep: “Ek is Mogamat! Dis nie ek nie! Dis nie my drugs nie!

“Ek het niks gedoen nie. Soewalay kassam (God se waarheid)!”

’n Cop op die raid sê die verdagte is net Maandag vrygelaat op ’n klag van dwelmbesit.

In ’n raid in Manenberg dieselfde aand is ’n hele gesin toegekap toe dwelms in hul huis gevind is.

Son het met ’n vermeende dealer gesels. Die polisie kon hom nie arresteer nie omdat hy niks by hom gehad het nie.

Hy sê: “As die gangsters drugs kom koop, moet hulle sonder wapens kom. Hulle moet hulle gedra, want ’n inwoner wie se twee seuns doodgeskiet is, het die vrede gemaak tussen die gangsters.”

Maar baie van die inwoners het glad nie daarvan gehou dat die cops hul strate kom raid nie.

Een vrou het al skreeuend gevra wat die polisie in hul straat kom soek.

’n Ander vrou het die polisie uitgevloek.

JP Smith, die Stad se mayco-lid vir veiligheid en sekuriteit, sê: “Ons waardeer die tips wat ons gedurig van die gemeenskap ontvang.

“Baie inwoners is gewillig om ons te help om misdaad uit te roei.”

Janine Willemans, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad, het gister gesê: “Die metropolisie het drug dens en wonings in Lavender Hill, Grassy Park, Ottery, Steenberg, Retreat, Hanover Park en Manenberg geteiken.

“Altesaam 19 mense is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.

“Die volgende is gekonfiskeer: 24 pakkies tik, 53 Mandrax-tablette, 18 eenhede heroïen, 114 bankies dagga, asook 106 daggastoppe.

“Daar is ook 88 verkeersboetes uitgereik, 8 waarskuwings is uitgeskryf aan die eienaars van raadshuise en 3 boetes vir die onwettige verkoop van alkohol.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters