2 maande gelede
Tweeling se pa lyk maar oes
gelukkige tye: Julia Engelhorn saam met haar tweeling wat na bewering deur hul pa vermoor is. Foto’s: Facebook  ~ 

DIE Spanjaard wat daarvan verdink word dat hy sy tweeling vermoor het, se lawyer is ten minste bekommerd oor hom.

Mario Caesar Deus Yela (48) se lawyer, William Booth, het gister in die Wynberg-hof gesê hy’s bekommerd oor Yela se fisieke en emosionele toestand, veral noudat hy in die tronk is.

’n Smerige Yela het gister nogal by die prentjie gepas wat Booth van hom geskilder het.

Met vuil hande en gesig, geklee in ’n swart top en jeans, het hy beteuterd voorgekom.

Die bewering teen die man is dat hy sy driejarige tweeling twee weke gelede in sy woonstel by die Princess ­Beach-kom­pleks in Houtbaai vermoor het.

Yela face twee aanklagte van moord en ’n klag van ­motordiefstal.

Yela, wat oorspronklik van Barcelona in Spanje is, het Suid-Afrika besoek om die tweeling en ’n ouer seun van hom te sien.

Op die dag van die kinders se moord het Yela glo sy eksvrou, Julia Engelhorn, gebel en haar vir middagete genooi.

Toe sy daar kom, het hy aan haar gesê hy het hul tweeling vermoor.

Yela het glo toe in haar voertuig gevlug.

Yela het glo toe aan Engel­horn gesê hy is op pad na die skool van hul sewejarige seun om hom ook te vermoor.

Yela is later op die M3 naby Wynberg in hegtenis geneem waar hy geloop het nadat hy die voertuig geparkeer het.

Yela, wat tevore by die Victoria-hospitaal onder polisiebewaking opgeneem is ná ’n poging tot selfmoord, word sedert verlede week in die Pollsmoor-gevangenis se hospitaalafdeling aangehou.

Booth het in die hof gemoan sy kliënt se omstandighede in die tronk is te haglik vir sy kliënt se gesondheid.

Booth sê: “My kliënt het klaar probeer om selfmoord te pleeg. Hy eet nie. Hy drink nie. Sy fisieke en emosionele toestand is ’n bekommernis.

“Die toestande in die tronk help ook nie. My ­kliënt kry nie sy medisyne nie. Daar is net een toilet vir 20 gevangenes.

“Daar is luise, vlooie en kakkerlakke in die plek,” het Booth verduidelik.

Booth het ook landdros Goolam Bawa daarvan ingelig dat sy kliënt voor die moorde plaasgevind het in ’n ongeluk betrokke was.

“Ons wil ook die verdediging met die inligting voorsien, want die ongeluk kan beteken dat hy miskien ’n blackout gekry het. Sy geestestoestand moet ondersoek word.”

Toe Bawa die saak uitstel, het Yela net afgekyk en so stadig soos ’n slak uit die beskuldigdebank geskuif.

’n Hofganger het hard gefluister: “Nie hier in ons land nie, meneer. Jy kan maar mal speel, maar jy is normaal.” Die saak is tot 25 April uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters