2 maande gelede
Tragedie by party eis kid (4)
 ~ 

DIE verjaardag van ’n driejarige meisie van Delft het Woensdag in ’n tragedie geëindig toe ’n vermeende dronk driver in ’n groep kinders vasgejaag het terwyl hulle op ’n jumping castle gespeel het.

Een van die kinders wat die paartie bygewoon het, Vinisher Hauw (4) van Belhar, is gisteroggend in die Rooi Kruis-kinderhospitaal dood as gevolg van haar beserings.

Die verjaardagmeisie, Farah Eliah (3), is tans in die hospitaal met ernstige kopbeserings.

Haar broer, Sammy (7,) se arm is gebreek. Hy is Woensdagaand uit die hospitaal ontslaan.

Vinisher het erge kopbeserings opgedoen en die masjiene wat haar aan die lewe gehou het, is omstreeks 10:00 gister afgeskakel.

Volgens haar ouma Maureen Christian is ­Vinisher se broer, Wayne (12) nog in die hospitaal.

Hy het beserings aan sy hand en mond opgedoen.

Christian het gesê: “Hy haal deur ’n pyp asem oor hy nie op sy eie kan asemhaal nie. Die dokters is ook bekommerd oor sy bene.”

Volgens Christian is nog ’n 15-jarige meisie ook in die Tygerberg-hospitaal en gaan haar been geopereer word nadat dit in die ongeluk gebreek is.

Darren Francis, ’n woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het gesê een pasiënt is nog kritiek en een stabiel in die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

Die voorval het omstreeks 16:00 in Eindhovenstraat in Delft gebeur toe ’n Opel- bakkie en ’n rooi Volkswagen Jetta in die straat ge-dice het.

Die bestuurder van die bakkie was glo dronk. Dit was ook sy verjaardag.

Hy het beheer oor die bakkie verloor toe hy die draai vat en het in die groep kinders vasgejaag wat besig was om op die sypaadjie op ’n springkasteel te speel.

Volgens Ineke Huyssteen van ER24 is agt mense in die ongeluk beseer, waarvan ses kinders is.

Die beseerdes is in ’n ambulans na die hospitaal geneem.

Volgens Farah se ouma Annie Samuels het die kinders verstrooi in die straat gelê ná die ongeluk.

Samuels het bygevoeg: “Die ou wat die bakkie gery het, was dronk. Die bierbottels het op die ongeluks­toneel gelê.

“Hy het ná die ongeluk van die toneel weggehardloop.”

Thea-Liam Eliah (16) het gesê: “Ek het buite gestaan en gekyk dat die kinders nie pad toe gaan nie. Die bakkie en die rooi Jetta het ge-dice. Die bakkie se bestuurder het beheer verloor en in die springkasteel vasgery.”

Volgens ’n polisiewoordvoerder, Sinathi Joni, is ’n saak van nalatige bestuur geopen. Niemand is egter nog gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters