2 maande gelede
‘Tikkoppe stig skoolbrand’
skade: Die skoolsaal van die Primêre Skool Northway in Ravensmead is in die brand verwoes. FOTO VERSKAF  ~ 

TWEE klaskamers en ’n deel van die Primêre Skool Northway se saal het in die slag gebly nadat tikkoppe glo die skool gister aan die brand gesteek het.

Inwoners van ­Ravensmead het ingegryp om te keer dat die skool tot op die grond afbrand.

Dawie van Wyk, ’n gemeenskapswerker, het gesê: “Tikkoppe het gister in die vroeë oggendure by die skool ingebreek.

“Hulle het niks gekry nie en toe die klaskamers aan die brand gesteek.

“Twee klaskamers het afgebrand en ook ’n gedeelte van die saal.

“Inwoners het ingespring en die vlamme probeer blus voordat die brand verder kon versprei.”

Volgens Van Wyk is duisende rande se skade aangerig en het dit groot ontwrigting by die skool veroorsaak.

Volgens Jessica ­Shelver, ’n woordvoerder van die departement van onderwys in die Wes-Kaap, is die oorsaak van die brand nog onbekend.

Shelver het gesê: “Amptenare van die departement het gister na die skool gegaan om die skade te bepaal.

“Die twee klaskamers wat afgebrand het, is nie deur leerders gebruik nie.

“Onderrig het gister nor­maal voortgegaan ten spyte van die brandskade.”

Carlo Goliath, die voorsitter van die skoolbeheerliggaam, het gesê: “Daar word vermoed die brand is gestig deur een of twee persone wat by die skool ingebreek het.

“Ons het voorheen al ’n paar inbrake gehad, maar dié keer is dit erger.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters