2 maande gelede
Te koop: posh BMW vir R400
senuwees: Die hof het gehoor Tawfeeq Ebrahim het sy naels gekou en was soos ’n groot baba.  ~ 
verkoop: Die hooggeregshof in Kaapstad het gister gehoor dat Renaldo van Rooyen ’n BMW Z3 vir R400 in Bishop Lavis wou verkoop. Foto’s: PETER ABRAHAMS
senuwees: Die hof het gehoor Tawfeeq Ebrahim het sy naels gekou en was soos ’n groot baba.

EEN van die beskuldigdes in die Zarah Hector-moordsaak wou ’n BMW Z3, vermoedelik dieselfde kar wat sy voor haar dood gery het, vir R400 smous.

Quinton Pheira, ’n staatsgetuie, het in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig dat hy Renaldo van Rooyen (34) en Tawfeeq Ebrahim (26) op 15 Maart 2016 in Bishop Lavis ontmoet het.

Van Rooyen en Ebrahim staan tereg op klagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

“My vriend Reagan het na my huis toe gekom en gesê hy het ’n warm kar en hulle wil dit vir R400 verkoop.

“Ons het na die kar gegaan wat by ’n huis oorkant die Bishop Lavis-treinstasie geparkeer gestaan het,” het Pheira getuig.

Pheira het aan die hof vertel dat hy in Bishop Lavis gewoon het.

“Ons het na Reagan se huis toe gestap toe ek Renaldo en Tawfeeq ontmoet het. Ons het ná ’n uur weer teruggegaan na die BMW Z3 toe.

“Reagan het in die kar geklim en dit aangesit. Die kar wou nie start nie,” het Pheira gesê.

Hy het in die hof getuig dat hulle toe weer na Rea­gan se huis toe is om vir Van Rooyen en Ebrahim mee te deel dat hulle nie die kar ge-start kon kry nie.

“Ek, Renaldo, Tawfeeq en Reagan is toe weer na die motor toe. Renaldo het ook probeer om die motor aan te skakel, maar dit was dood.

“Hy het vir my gesê hy is die eienaar en dat hy dit vir R400 wil verkoop.”

Die hof het gehoor dat Pheira ’n battery gegee het om die motor aan die gang te kry.

Hy het ook vir die hof vertel dat hy twee keer met die motor gery het.

“Dit was soos ’n droom wat waar geword het. Ek wou gehad het dat hulle by my moet bly, want ek wou weer die motor bestuur. Ek het ’n paartie gehou.

“Tawfeeq het nie baie drugs gebruik nie. Ek kon sien Renaldo was lief vir drugs. Tawfeeq het sy naels gekou. Hy was soos ’n groot baba.

“Renaldo is die ou. Hy het gelyk of hy nie bang was nie.

“Ek het besluit dat ek nie die motor gaan koop nie, want daar is iets nie reg as hy só ’n motor vir R400 wou verkoop nie,” het Pheira getuig.

Hy het die motor op ’n foto wat aan hom in die hof gewys is, herken.

Hy het ook gesê dat Van Rooyen die kar se radio en shuttle aan hom vir R70 gegee het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters