11 dae gelede
Seun sterf soos held
Kopskoot: Anthea Morris (links), die mammie, sê dit het een bullet gevat om haar seun se lewe te beëindig. Foto’s: MELINDA STUURMAN  ~ 

SOOS ’n hero het Joshem Jacobs (19) gelewe en toe ook só gesterf.

Die oulike matriekleerder van die Hoërskool Elsiesrivier het gedurende sy laaste paar minute op aarde probeer om ’n meisie te red.

Maar in die proses het dit sy eie lewe beëindig toe die bullet wat veronderstel was om vir haar te wees, hom in die kop getref het.

Die tragedie het 05:00 Saterdag in een van die flêtse op die boonste verdieping in Connbaught Estate in Elsies afgespeel.

Jacobs het die naweek by een van sy klasmaats ge­kuier toe die koeël hom getref het.

Sy groep maats was al glo klaar aan die slaap toe die eerste paar skote Saterdagoggend in Clarestraat geklap het.

Volgens ’n ingeligte bron het een van die groep vriende opgestaan en buite op die trappe gaan staan toe die skietery losgebrand het.

Kopskoot: Anthea Morris (links), die mammie, sê dit het een bullet gevat om haar seun se lewe te beëindig. Foto’s: MELINDA STUURMAN
troos: Anthea sê Joshem Jacobs se girlfriend, Bronwyn Oktober (regs), is vir ’n week van skool afgeboek.
joshem jacobsFOTO verskaf

Inspring

Die ooggetuie vertel dat die meisie na die skieters geskree het dat sy hulle kan sien.

Dis toe Jacobs inspring en haar wou wegruk.

Die bron sê: “Hy het buitetoe gehardloop en haar in die huis getrek. Maar toe tref die koeël hom in die kop en hy is op die toneel dood.”

Jacobs se gebroke mammie, Anthea Morris (43), vertel dat die pyn in haar hart iets is wat sy nie kan verwerk nie.

Die ma sê haar seun was nie ’n gangster nie en beskryf hom as iemand wat altyd lus vir die lewe gehad het.

“Hy was my enigste kind.

“Hy het nie verdien om só te gaan nie. Hy het nog soveel lus vir die lewe gehad.”

Volgens Morris het sy dit vreemd gevind om haar seun se study desk leeg te sien, juis op die moorddag.

Sy sê: “Dis amper asof hy geweet het.”

Sy sê: “Gewoonlik is die tafel vol van sy boeke, die manier waarop hy gestudeer het.

“Maar gister (Saterdag) was dit skoon met net sy ID wat op die tafel gelê het.

“Wat dit meer hartseer maak, is dat die ID so neergesit is amper asof om te sê, ‘mammie gaan dit nodig hê’.”

Bronwyn Oktober (19), Jacobs se girlfriend van vier jaar, sê die hardste om te verwerk is dat sy nog voel asof hy hier naby is. Dan tref die werklikheid haar weer.

Oktober sê: “Hy moes nog net vier vakke geskryf het, dan sou hy klaar met skool gewees het.

“Dis een ding waarna ek uitgesien het, want ons het altyd beplan om ná skool te trou.”

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die moord bevestig en gesê die saak word ondersoek.

Rwexana sê: “Op 11 November 05:00 het ’n skietvoorval by Clarestraat in Connaught Estate plaasgevind.

“Die polisie het op die skietery gereageer.

“By hul aankoms het hulle hom gevind. Niemand is in hierdie sta­dium nog gearresteer nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters