5 dae gelede
Pypkop skok hof met nare beskrywings
Afgeskeep: Dr. Lara Peddle sê Asheeqah Scott was erg verwaarloos.  ~ 
BAIE SEER: Asheeqah Scott net voor haar dood in die Rooi Kruis-kinderhospitaal. FOTO Verskaf
Afgeskeep: Dr. Lara Peddle sê Asheeqah Scott was erg verwaarloos.
Skuldig: Pieter van Tonder erken skuld aan die moord op Asheeqah Scott.
Hartseer: Shakiera Scott sê sy is nog baie hartseer oor haar kind se dood. Foto: Peter Abrahams

HY HET haar vier keer geklap dat sy lê, haar lippe met ’n warm Mandrax-pyp gebrand en haar soos ’n lappop oor en weer in sy kar laat rondval.

Só het Pieter van Tonder gister in die hooggeregshof in Kaapstad in ’n pleitverduideliking getuig oor die dag toe hy Asheeqah Scott (17 maande) so ernstig aangerand het dat sy aan haar wonde beswyk het.

Toe regter Mushtak Parker vra hoe Van Tonder pleit op die aanklag van moord het hy hard en selfversekerd gesê: “Heeltemal skuldig.”

Die voorval het by Van Tonder se woning in Roosendal in Delft plaasgevind. Van Tonder sê die kind het nie een keer deur die wrede aanranding gehuil nie.

Asheeqah se ma, Shakiera, het hom op 3 September 2016 gevra of hy ’n rukkie na die kind sal kyk terwyl sy wasgoed was. Sy en Van Tonder was toe vyf maande in ’n verhouding.

Van Tonder het gesê hy het kwaad geword toe Shakiera nie terugkom nie en het Mandrax gerook.

“Ek het daarna vir Asheeqah geklap dat sy op die bed val. Ek het dit nog drie keer gedoen. Sy het nie gehuil of beweeg nie.”

Sy ma het hom en sy pêl Ricardo Marco gestuur om biere te gaan koop. In die kar het hy Asheeqah se “pap liggaam” op die kopstuk van die motorsitplek gesit.

“Ek het aspris spoed opgetel en gebriek dat sy agtertoe geval het. Ek het dit ’n paar keer gedoen.”

Marco het alles bevestig wat Van Tonder in sy verduideliking getuig het. Hy het bygevoeg dat Van Tonder Asheeqah se liggaam oor die stuurwiel gegooi het en so huis toe gery het nadat hulle die biere gekoop het.

By die huis het hy gesien hoe Van Tonder die kind se lippe met ’n warm witpyp brand.

Dr. Lara Peddle, staatspatoloog, het getuig Asheeqah het 26 wonde gehad, sommige oud en ander vars.

“Sy het vars brandwonde op haar lippe gehad, maar ou brandwonde soos dié van ’n sigaret op haar hand en voorarm.

“Sy het ook swelling en bloeding op haar brein gehad. Sy is dood aan die kopwonde. Asheeqah se ribbes was ten tyde van haar dood gebreek en is ook voorheen gebreek,” het Peddle getuig.

Peddle het verder gesê sy het in haar tyd as patoloog nog nooit ’n kind gesien wat so ondervoed was nie.

“Haar pankreas was ernstig beskadig en haar lewer het gelyk soos dié van ’n volwassene met ’n drankprobleem. Sy het verskeie infeksies gehad, insluitende ’n infeksie van die oog, naels en longe.”

Buite die hof het Shakiera gesê sy voel nie verlig nie, maar tevrede dat die saak na ’n punt toe kom.

“Ek word nog baie hartseer oor die dood van my baba.”

Asheeqah se ouer suster, Nasheeqah Scott (5) is kort ná haar sussie dood van haar ma af weggeneem, maar die twee is later herenig.

Die saak is op 6 November weer in die hooggeregshof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters