2 maande gelede
Papierwerk ‘faal’
Belinda BastiaanFOTO VERSKAF  ~ 

STEVE Bastiaan se waarskuwingsverklaring is nooit beëdig nie.

Dít het gister in die Kaapse hooggeregshof in ’n binneverhoor uitgekom.

Bastiaan staan tereg op klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook die verkragting van en moord op sy vrou, Belinda (33).

Hy is op 30 April 2015 in Lost City, Mitchells Plain, gearresteer nadat hy Belinda na bewering aangerand en verkrag het.

Belinda was die belangrikste getuie in dié saak.

Die volgende dag het konst. Mogamat Sauls ’n waarskuwingsverklaring afgeneem.

Hoewel Bastiaan nie ’n verklaring wou gee nie, het Sauls hom gevra of hy een vraag kan vra.

Sauls het toe die vraag gestel en die antwoord het blykbaar neergekom op ’n erkenning.

Die staat wou hierdie verklaring inhandig, maar Bastiaan se lawyer, adv. Thulasive Twalo, het beswaar gemaak. Volgens hom het sy kliënt nooit ’n verklaring afgelê nie.

“Hy is net ’n klomp dokumente gegee en aangesê om dit te onder­teken,” sê Twalo.

In die binneverhoor moes Sauls toegee hy het nooit vir Bastiaan gesê hy het die reg op ’n regsverteenwoordiger en die reg op ’n tolk nie.

Twalo het ook daarop gewys dat die verklaring nie op elke bladsy met ’n initial geteken is nie en dit is ook nie beëdig nie.

Net ’n paar dae later is Bastiaan op borgtog van R500 vrygelaat op voorwaarde dat hy nie naby sy vrou mag kom nie.

In die vroeë oggendure van 21 Junie 2015 het hy mense gebel en gesê hulle moet ’n ambulans kry, want daar is ’n emergency by hul huis. Dit het glo geklink asof hy hardloop.

Belinda is in ’n plas van haar eie bloed op die vloer van haar huis aangetref.

Haar een oog het op haar wang gelê en die ander een is in die oogkas terug­gedruk.

Belinda het op 7 Augustus – sewe weke ná die aanranding – aan haar verskriklike wonde beswyk. Haar hart het gaan staan weens sepsis en longontsteking.

Die binneverhoor gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters