6 maande gelede
Pa ‘neem wraak’
soek hulp: Dié bekommerde mammie van Manenberg wil hê haar kind en sy vriend moet beskerm word.Foto: MELINDA STUURMAN  ~ 

TWEE 15-jarige seuns van Manenberg wat vroeër dié jaar glo vals van verkragting aangekla is, vrees nou vir hul lewe.

Dit volg nadat die seuns en een van hulle se ma glo Saterdag deur die klaagster se pa aangerand is.

Die vreesbevange mammie vertel: “My seun en twee van sy vriende was vroeër dié jaar in aanhouding oor hulle glo ’n meisie verkrag het. Hoewel ons kinders dit ontken het en vir die meisie se pa gevra het om haar tot by hulle te bring sodat hulle vir haar kan vra waarom sy dit doen, het hy geweier.”

Volgens die ma was die seuns die dag van die beweerde verkragting by die meisie (ook 15) se huis toe haar ouers nie tuis was nie.

“Sy het hulle geroep. Een van hulle het toe aan haar gesê as hy kom na hulle huis, soek hy airtime.

“Hulle het ’n huiswinkel en die seuns het chips sowel as geld by haar gekry, waarna hulle weg is.”

Die seuns is glo ’n paar dae later deur die meisie se woedende pa gekonfronteer.

Hy het hulle ook glo gedreig dat hy ’n saak van verkragting by die polisiestasie sou maak.

Die ma vertel: “ ’n Saak van poging tot verkragting is toe aanhangig gemaak en die seuns is vir drie dae aangehou. Daarna moes ons elke keer in Wynberg voorkom vir konsultasie.

“Die meisie en haar familie het egter nooit by die hof uitgesteek nie en die saak is uit die hof gegooi en die seuns onskuldig bevind.”

Volgens die mammie het die hof nie die seuns verbied om na die spesifieke blok flats te gaan waar die beweerde verkragting gebeur het nie.

“Saterdag het my seun en sy vriend na ’n vriend daarheen gegaan.

“Die meisiekind se pa het hulle toe begin klap en rondruk, waarna hulle ’n baksteen na hom geslinger het uit selfverdediging.

“Ek is toe self na die man om te hoor waarom hy steeds die kinders treiter.”

Die ma sê dit blyk dit was haar grootste fout, want toe val die man haar ook aan.

“Hy het my gestoot dat ek in die sand val en lê.

“Hy het ook aan my gesê dat hy die res van sy lewe die kinders gaan moer.”

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het gesê hulle het geen rekord van ’n aanrandingsaak wat deur die familie aanhangig gemaak is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters