8 dae gelede
Ou vergewe vrou
liefie: Petina Coetzee wou gister by die joernaliste weet of sy nou ’n celeb is. Foto’s: Tracy-Lynn Ruiters  ~ 

NÁ VYF maande weg van mekaar, kan die Coetzee-egpaar nie meer sonder mekaar lewe nie.

Dié tweetjies, wat hul tiende huweliksherdenking in Februarie sou vier, het die hof gister gesmeek om hulle die geleentheid te gee om versoen te raak.

Petina Coetzee (45) van Kenilworth het gister in die Wynberg-landdroshof op ’n aanklag van sameswering tot moord voor landdros Goolam Bawa verskyn.

Sy sou gister hoor of sy na haar huis kan terugkeer nadat sy glo ’n hit op haar ou man beplan en na bewering moordenaars gehuur het om hom die ewigheid in te stuur.

Sy was glo bereid om die huurmoordenaars R200 000 te betaal om die job te doen.

Petina, wat ’n besigheid bedryf wat ID-foto’s neem, sou die bedrag afbetaal omdat sy nie die aandag op haar wou vestig indien haar man onverwags sou sterf nie.

Petina is op 18 Oktober 2016 in Lansdowne in hegtenis geneem.

Sy het op die Dinsdag toe sy in hegtenis geneem is, reeds die eerste bedrag van sowat R5 000 aan die vermeende huurmoordenaars betaal. Sy is kort daarna vasgetrek.

Haar man, Austin (67), het gister met ’n hartseer trek in sy oë telkens gekyk na waar sy vrou in die beskuldigdebank gestaan het. Sy was geklee in ’n swart-en-wit rok.

Austin het na verneem word ’n brief aan die staat geskryf waarin hy vra die staat moet Petina se borgtogvoorwaardes versag omdat hul kinders swaarkry.

Daar is glo gevra haar borgtogvoorwaardes moet aangepas word sodat sy huis toe kan gaan. Sy woon tans by familielede. Petina is uit op borgtog van R30 000.

Petina wou glo ook hê dat sy nie meer elke Vrydag by die Elsiesrivier-polisiestasie hoef aan te meld nie.

Volgens Petina se lawyer, William Booth, het Austin die staat ingelig hy wil nie meer ’n staatsgetuie wees nie.

Skuld

Austin het die staat laat weet hy sal sy “eie man staan” indien iets verkeerd loop ná hul versoening.

“Ek onthef die staat van enige verantwoordelikheid of skuld indien ek iets sou oorkom ná ons versoening,” het Austin geskryf.

In die brief wat Austin aan die staat gerig het, smeek hy omtrent dat sy vrou weer by die huis toegelaat moet word.

“Ek wil nie meer hê dat ons kinders blootgestel word nie. Selfs die sielkundige kon sien watter uitwerking dit op ons vierjarige het.”

Booth vertel die 16-jarige klong in gr. 11 sorg tans vir die vierjarige kind.

Bawa het die saak vir die uitspraak oor die borgtogvoorwaardes tot 4 Mei uit­gestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters