4 maande gelede
Moordsaak van meer as 2 jaar is in die pylvak
going . . . going . . . Anthony “Humpty” Williams (links) en Lyle Lamohr sal binnekort hoor wat hul lot is.Foto: Tanya Menges  ~ 

DIE kanse is goed dat die Parkwood-moordsaak uiteindelik dié week, ná meer as twee jaar, afgehandel sal word.

Lyle Lamohr (26) en Anthony “Humpty” Williams (28) staan tereg vir die moord op Kelvin Mouton (30), Ryan Petersen (22), Ryan Harland (19) en Chaundre Minnies (25).

Dié vier is op 24 April 2015 by die Angelierhof-flêtse in Kestrel Way, Parkwood, afgemaai.

Mouton was die teiken; die ander drie slagoffers was net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Lamohr het dié week in sy eie verdediging in die Kaapse hoog­geregshof begin getuig.

In sy getuienis ontken Lamohr enige betrokkenheid by die moorde.

Saam

Hy voer aan hy was besig om entjies by ’n huiswinkel naby die moordtoneel te koop toe vier slag­offers in Parkwood afgemaai is.

Lamohr sê hy was saam met Jerome “Trompie” Fielies.

Die huiswinkel is dié van Williams se antie, Martha Abrahams. Sy het getuig dat Lamohr wel by haar was toe die skote afgegaan het.

Abrahams het getuig: “ Toe hy daar aankom, het die skote afgegaan. Dit was aaneen – meer as tien skote.”

Fielies het ook getuig dat hy saam met Lamohr was toe die skote afgegaan het.

Abrahams, Lamohr en Fielies het almal getuig dat hulle kort ná die skote geklap het twee mans van die toneel sien hardloop.

’n Vrou wat in die flêtse was en die skiet-orgie oorleef het, het Wil­liams en Lamohr egter vroeër as die skieters uitgewys.

Sy mag nie geidentifiseer word nie omdat sy onder getuiebeskerming is.

Sy het getuig dat Williams die skieter was en dat Lamohr “pos gevang” het.

Williams se regsverteenwoordiger, adv. Mohamed Sibda, het die patoloog weer ontbied.

Dié sal vandag getuig, waarna die staat en verdediging hul slotbetoë sal lewer.

Regter Ashton Schippers sal dan uitspraak lewer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters