6 dae gelede
Moord-ma wil ‘vry wees’
IN DIE TJOEKIE: Ameerudien Peters het aangedui dat hy nie in sy aansoek om borgtog gaan getuig nie. FOTO’S VERSKAF  ~ 

ABIGAIL Ruiters het gister met haar pasgebore babadogtertjie in die Kaapse landdroshof verskyn.

Ruiters (30) het getuig oor die voorval van die dag toe haar 18 maande oue baba, Jeremiah, gesterf het.

Ruiters en haar boy­friend, Ameerudien Peters (26), staan tereg vir die moord op Jeremiah.

Ruiters, wat op 27 September in Pollsmoor se hospitaalafdeling die lewe geskenk het aan ’n dogtertjie, het huilend getuig dat sy vrygelaat wil word om na haar kinders te kyk.

Sy getuig: “Ek het nog nie my kind se dood verwerk nie.

“Ek wil na sy graf toe gaan, want ek kon nie sy begrafnis bywoon nie. Ek wil vir my kinders sorg.”

Die staatsaanklaer het haar ook gebombardeer oor haar kind se beserings.

Sy het onder kruisondervraging gesê haar kind se middelvinger was beseer en hy het ook laas jaar sy arm beseer toe hy glo geval het.

Hy het ook merke op sy maag gehad toe hy glo van die bank afgeval het.

Daar was ook sproei in die kind se mond en op sy tong.

Adiel Jansen, die staatsaanklaer, het getuig die ondersoekbeampte het ook twee dae ná Jeremiah se dood bytmerke op sy mond opgemerk.

Die ma het gesê dit is van die sproei in die kind se mond. Sy het aan die hof gesê sy het nie daarvan geweet nie.

Volgens die patoloog se verslag het Jeremiah glo ook bytmerke op sy tong gehad.

Hy het ook ’n gekraakte skedel en swelling op die brein gehad. Drie ribbes aan sy linkerkant was gebreek en dit was vars beserings.

Daar was ook ou beserings van gekraakte of gebreekte ribbes aan die regterkant.

Ruiters het volgehou haar kind was gesond en sy weet niks van die beserings nie.

“Ou bytmerke aan sy liggaampie was duidelik sigbaar en ook op sy penis.

“Daar was ook bytmerke aan sy testikels en sy blaas.

“Hy het ook ’n besering aan sy rugwerwel gehad, wat vermoedelik deur ’n stomp voorwerp veroorsaak is.

“Daar was ook op twee plekke skeure in sy anus, waarvan een ’n vars wond was,” het Jansen getuig.

Ruiters het getuig daar was ’n merk bokant Jeremiah se penis die oggend toe sy hom droog gemaak het.

Sy het gedink dit was nappy rash.

Peters het aangedui dat hy nie gaan getuig nie en sy lawyer, adv. Alan Koester, het sy verklaring in die hof voorgelees.

Die aansoek om borgtog sal op 25 Oktober voortgaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters