2 maande gelede
Lyke hoop op in Kaap
hoop op: Patoloë by die Soutrivier-lykshuis kan omtrent nie byhou nie.Foto: Peter Abrahams  ~ 
samewerking: Die weermag kom dalk Kaap toe.
hoop op: Patoloë by die Soutrivier-lykshuis kan omtrent nie byhou nie.Foto: Peter Abrahams

TERWYL politieke leiers nog redekawel of die army teen bendes ontplooi moet word, sukkel patoloë om by te hou met lykskouings.

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het gister aangekondig families van dooies kan vertragings verwag weens die hoë getal lyke by Soutrivier en Tygerberg se staatslykshuise.

En nóg kom elke dag by. Son het Maandag en gister berig oor 13 moorde in en om Kaapstad alleen. Twee weke gelede is 18 mense binne dae in die Marikana-plakkerskamp in Philippi-Oos doodgeskiet.

Die nasionale polisie­minister, Fikile Mbalula, erken dié bende-bloedbad moet gestuit word. Hy het Dinsdagaand aangekondig hy het die SANDF genader.

Die finale besluit lê egter by pres. Jacob Zuma. Zuma het al voorheen die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se versoek in dié verband van die hand gewys.

Die Wes-Kaapse woordvoerder vir nood-, mediese en patologiese dienste, Robert Daniels, het gister gesê die metro kan vertragings verwag met nadoodse ondersoeke.

Hy kon egter nie sê hoe groot die agterstand is nie.

In gevalle van moord moet ’n patoloog die doodsondersoek doen voordat die lyk vir begrafnis aan die familie oorhandig word.

Daniels sê patoloë is soms besig om in hofsake te getuig.

Mbalula het gesê: “Toe ek Elsiesrivier besoek, het ’n gemeenskapsleier vertel van die vrees wat bendes inboesem.

“Ek wil vir die mense van Elsiesrivier sê: Ek het julle gehoor en ek tree nou op.”

Volgens Mbalula is dit noodsaaklik om die army in te roep omdat dit vir hom duidelik is dat van die kwaaddoeners ook militêre opleiding het.

Roegshanda Pascoe van die Wes-Kaapse veiligheidsforum het die besluit verwelkom, maar bygevoeg die weermag alleen sal nie bendegeweld op die Kaapse Vlakte keer nie.

“Eerstens kyk sommige mense op na die gangsters as hul heroes. Dít is die eerste probleem wat die hoof gebied moet word.

“Die mense wéét waar die gangsters hul wapens wegsteek, maar hulle wil nie sê nie,” waarsku Pascoe.

Sy stem saam alle hulpbronne teen bendegeweld, insluitend die army, moet beskikbaar gestel word.

“Ons wil nie polities raak wanneer dit kom by menselewens nie. Bring die army in en sluit die hele area af.

“Maak seker alle dreine en oop velde word deeglik deursoek. Bring snuffel­honde ook in.”

Sy voeg by die owerhede moet verseker die weermag dra nie by tot gemeenskappe se trauma nie.

“Die army skiet om dood te maak. As hulle inkom, moet jy ’n groot bankbalans hê, want hulle vernietig al die meubels as hulle ’n plek deursoek,” sê sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters