5 dae gelede
KSUT-hekke nou gesluit
sekuriteit: Dié draad is vroeër vandeesweek om die Kaapstadse kampus opgerig.Foto: twitter  ~ 

DIE Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se kampusse bly gesluit tot verdere kennisgewing.

Dit volg ná voorvalle van gewelddadige ontwrigtings vroeër vandeesweek by die Bellvillese en die Kaapstadse kampusse.

Studente se onlangse betogings hou verband met blyplek.

Die waarnemende visekanselier van die KSUT, dr. Chris Nhlapo, het Dinsdagaand laat die besluit om die kampusse te sluit, bekend gemaak.

Nhlapo het gesê die besluit is nie sommer maklik gemaak nie.

Volgens hom sal die opskorting van alle akademiese aktiwiteite die universiteits­bestuur die tyd gee om saam met die onderskeie belang­hebbendes te konsulteer.

Die heropening van die kampusse sal met verloop van tyd aan studente en personeellede gekommunikeer word, sê hy.

Die Kaapstadse kampus is Dinsdagaand met hakkiesdraad afgesper.

Vier studenteleiers wat skuldig daaraan bevind is dat hulle versuim het om orde te handhaaf tydens die betogings, is Dinsdag vir 12 maande geskors. Dit is egter opgeskort en hulle kan terugkeer na die kampus.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters