5 dae gelede
Huis van die baan
ontsteld: Andrew Arnold (regs) gesels met Jeremy Johannes van die Helderberg-gemeenskapsforum, Sophia du Plessis, en Christian Steward van die EFF. Foto: Ian Baard  ~ 

’N WEERLOSE ma en twee dogters moet op straat gaan sit nadat die Strand-gholfklub ’n uitsettingsbevel teen hulle verkry het.

Nosey Pieterse, president van die plaaswerkersvakbond Bawsi, is baie bitter hieroor.

Luidens die uitsettingsbevel wat deur die Strand-gholfklub teen Sophia du Plessis bekom is, is dit omdat sy in gebreke gebly het met haar huurooreenkoms.

Du Plessis woon al 24 jaar op die gholfklub se gronde.

Haar man, Johannes Adams, het 31 jaar vir die klub gewerk, maar is in 2015 aan longkanker dood.

Sy vertel ná haar man se dood het sy nie ’n sent van die klub ontvang nie.

Ná sy dood is daar ook ’n nuwe huurkontrak tussen haar en die gholfklub opgestel. Daarvolgens sou sy R250 ’n maand huur betaal. Sy het egter agterstallig geraak.

Pieterse sê die grond waarop die gholfbaan geleë is, beslaan sowat 40 hektaar en is die eiendom van die Kaapse stadsraad.

Hy sê: “Dis ’n skande.”

Pieterse sê Du Plessis moes al Sondag die plek ontruim het, maar hulle gaan nou na alle opsies kyk om die gesin in die huis te hou.

As die geregtelike opsies nie werk nie, sal hulle na alternatiewe kyk.

Andrew Arnold van die EFF het ook tot die stryd toegetree om die gesin te help. Arnolds sê daar is ses gholfbane in die Helderberg, maar nie grond vir huise vir die armes nie.

Hy sê die huurkontrakte moet heroorweeg word in belang van die mense. Hy sê ook hulle gaan die massas se hulp gebruik om die Du Plessis-gesin in hul woonhuis te hou.

Die huurooreenkoms tussen die stadsraad en die klub is vir 25 jaar en dit is in 2000 onderteken.

Vanuit Somerset-Wes sê Arno Verwey, prokureur van die firma Hannes Pretorius, Bock & Bryant, wat die uitsettings bevel namens die gholfklub bekom het, dié geding kom al ’n lang tyd aan.

Hy sê: “Die rede vir die uitsetting is dat die vrou nie haar huur betaal het nie.”

Omdat Du Plessis nog die huis beset, wag hy vir opdrag van sy kliënt om verdere stappe te doen.

Hy sê ook die stadsraad het vir die gesin alternatiewe blyplek by Blikkiesdorp in Sym­phony-weg, Delft, aangebied.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters