4 maande gelede
Hoof vol gate by skool gelem
gevaarlik: Die polisie het gistermiddag nog ’n ogie oor die skool gehou. Foto: leon bonthuys  ~ 

’N SKOOLHOOF is ernstig beseer nadat hy op die skoolgrond vol gate gesteek is.

Die voorval, wat gister omstreeks 07:15 by die ­Bishops-vaardigheidskool in Bishop Lavis gebeur het, hou verband met ’n skietvoorval wat onlangs by die skool plaasgevind het.

Die skoolhoof, Wayne Abrahams (48), word al die laaste tyd gedreig omdat hy wou voortgaan met ’n dissiplinêre verhoor van die 15-jarige leerder wat ’n ander leerder geskiet het.

Son het vroeër berig hy het ’n medeleerder in die been geskiet.

Die leerders en onnies was so erg getraumatiseerd ná die gru-voorval dat hulle berading moes ontvang.

Die minister van onderwys, Debbie Schäfer, en ­Brian Schreuder, hoof van die Wes-Kaapse onderwys departement (WKOD), het gister se voorval bevestig.

In ’n verklaring verduidelik hulle: “Die aanval het blykbaar gevolg nadat die skoolhoof gedreig is dat hy nie voort moet gaan met ’n dissiplinêre verhoor nadat ’n 15-jarige op 27 Maart in die been geskiet is nie.

“Die skoolhoof het aangemeld dat hy teen die einde van die kwartaal dreigemente ontvang het sou hy voortgaan met die dissi­plinêre verhoor.

“Volgens ons inligting het die twee aanvallers vóór 07:00 die skoolhoof in die voorportaal voorgekeer.

“Hulle het hom na bewering in die kop, nek, skouer en bors gesteek.

“Hulle het weggehardloop toe die opsigter by die toneel opdaag.”

Volgens ’n vrou wat naby die skool woon, het hulle duidelik die gille van ’n man vanaf die skool gehoor.

Die vrou sê sy het na die skool gehardloop en die bebloede Abrahams gewaar.

“Hy het ’n swart broek en wit hemp aangehad, maar die hemp was rooi van die bloed.

“Hy het sy foon aan ’n ander man oorhandig en gesê hy moet die polisie bel.

“Die man was duidelik in baie pyn,” vertel die vrou.

Schäfer en Schreuder sê hulle veroordeel die aanval ten sterkste.

Hulle sê enige aanval op ’n onnie of skoolhoof is onaanvaarbaar.

Beskerm

Die verklaring lui verder: “ ’n Aanval soos dié, op ­iemand wat sy lewe toewy daaraan om die jeug van die provinsie op te hef, is onaanvaarbaar.

“Hy het probeer om die regte ding te doen deur dissiplinêre aksie te neem om die leerders te beskerm.”

Die WKOD sê hy is tans besig om Abrahams se toestand te monitor.

Hulle sê ook dat Safe Schools en die Suid-Afrikaanse Polisiediens op die toneel was.

Daar is tans nog vier sekuriteitsbeamptes by die skool aangebring en die departement van gemeenskaps­veiligheid sal ook gevra word om ’n ogie te hou om seker te maak dat die verdagtes gevang word, sê die departement.

’n Polisiewoordvoerder, sers Noloyiso Rxewana, het die voorval ook bevestig.

Rwexana sê: “Die slag­offer het vele steekwonde opgedoen

“ ’n Saak van poging tot moord word ondersoek. Geen arrestasies is nog gemaak nie.”

Volgens ’n bron word die plek waar Abrahams aansterk geheim gehou vir sy eie veiligheid.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters