11 dae gelede
G’n bail vir ou
Sterftes: Die plaashuis wat met petrolbomme bestook is. Foto: IAN BAARD  ~ 

DIE saak oor die dood van drie mans wat onlangs in Faure doodgebrand het, het ’n dramatiese wending geneem.

’n Beskuldigde se borgtogaansoek in die Somerset-Wes-landdroshof is einde verlede week laat vaar.

Die brand het op 23 Oktober gebeur toe ’n ou plaashuis in Kramatweg aan die brand gesteek is.

Elton Johnson van Franschhoek is in verband met die voorval aangekeer.

Hy en nog vier mans word daarvan verdink dat hulle die huis met petrol aan die brand gesteek het.

Drie mans wat glo die brand gestig het, is in die proses dood nadat die vlamme hulle in die huis oorval het.

Een persoon is op die toneel dood en die ander twee is in die hospitaal.

Konst. Eric Nboniswa, die ondersoekbeampte in die saak, het in die hof getuig Johnson het ’n bekentenis gemaak. Daarin sê hy ’n wit man het hulle genader om die plek vir R10 000 aan die brand te steek.

Volgens Nboniswa sê Johnson ook in sy bekentenis hulle is na Eersterivier geneem, waar die petrol verskaf is.

Die hof het ná ’n verdaging gehoor Johnson wil sy borgtogaansoek laat vaar, maar geen rede is gegee nie.

Die bespiegelings by die hof was dat die beskuldigde vir sy lewe vrees.

Gedurende die brand was ’n man en sy 13-jarige seun in die huis. Hulle het daarin geslaag om te vlug.

Ander huurders op die perseel het vroeër gesê dit was ’n nagmerrie om die brand te aanskou.

Van die huurders op die perseel het vertel die eiendom behoort aan ’n bekende, ryk boer van die Stellenbosch-distrik. Hy en die groep huurders is in ’n hofgeding weens ’n uitsettingsbevel.

Son het betroubaar verneem die eiendom is glo verkoop.

Voor die Paasnaweek was die perseel ook in die nuus toe inwoners gekla het dat ’n gangster hulle wou aanval omdat hulle nie wou trek nie.

Om die mense te beskerm, is die hulp van die EFF van Khayelitsha ingeroep.

Die polisie was ook op die toneel en het ’n aanklag van afdreiging ondersoek, maar daarvan het niks gekom nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters